Twee Riviere Poskantoor

Twee Riviere Poskantoor – Geskiedenis

Die historiese dorp Twee Riviere is een van die vroegste gemeenskappe in die Langkloof, met die dat die oorspronklike plaas opgemeet en onder daardie naam geregistreer is alreeds in 1765. Die vallei-kloof geografie, asook die onderverdeling van die plaas Twee Riviere onder nasate van sy eienaars, het mettertyd aanleiding gegee tot ‘n aansienlike konsentrasie van wonings en huishoudings. Dit het gelei tot die geleidelike en natuurlike ontstaan van ‘n dorpsgemeenskappie. Vandag bestaan Twee Riviere ​​uit ongeveer 130 huishoudings en meer as vier honderd inwoners.

Die ‘The South African Institute for Conservation’ handhaaf ‘n kampus in Twee Riviere, en hierdie kampusgronde is ook die tuiste van die historiese gebou wat eens die oorspronklike poskantoor agentskap gehuisves. Dit was deur “Meester” Denis Samson Schreiber – die plaaslike posmeester, winkelier en soms skoolmeester – bedryf. Hierdie eertydse algemene handelaarsgebou, wat dateer uit die vroeëre 1800’s, het die poskantoor gehuisves tussen 1879 – 1921. Na Mnr Schreiber se dood in 1921, is die verantwoordelikhede van die handelaarskap deur die nuwe winkelier, ‘n jong Harold Strimling, oorgeneem, wie die perseel van die Schreiber afstammelinge gehuur het. Harold Strimling en sy ouers het sowat twaalf jaar vroeër in Suid-Afrika aangekom. Hulle het deel uitgemaak van ‘n noemenswaardige invloei van Joodse Litause immigrante wat probeer ontsnap het van toenemende vervolging in hul land van herkoms.

Die posagentskap self is egter oorgeneem deur ‘n seun van die oorspronklike posmeester, wie die poskantoor vir baie jare daarna nog suksesvol uit ‘n gedeelte van sy woonhuis bedryf het. Die algemene handelaarskap, op sy beurt, het post office 13 20120802 1602058508voortgegaan om te floreer in sy oorspronklike perseel onder die nuwe eienaarskap van die jong heer Strimling.

In die vroeë jare 1900’s, het ‘n kerklike inisiatief (gebaan uit ‘n Uniondale gemeente) aanleiding gegee tot die feitlik oornagtelike verrysing van die nabygeleë en veel groter Joubertina, wat befondsing bewerk het deur middel van eiendomsverkope uit die ontwikkeling self. Die vinnig groeiende Joubertina het daartoe gelei dat Twee Riviere ‘n geleidelike agteruitgang begin toon het, soos wat bank- en ander strategiese dienste die dorp vir die jonger buurdorp verlaat het. Na etlike dekades het selfs Twee Riviere se skooltjie gesluit – volgend op bykans sewentig jaar van diens aan die plaasgemeenskap – soos wat Joubertina se groter, moderner skool algaande meer steun getrek het. Die verlegging (in 1953) van die historiese verkeersroete wat reeds sedert 1865 deur Twee Riviere gevloei het, het die eens florerende gemeenskappie steeds verder die hoofstroom laat verlaat. Tog is hierdie verlies vandag ‘n bate, wat aan die strate van Twee Riviere ‘n rustige veiligheid en huislike karakter verleen! Destyds het hierdie stap egter tot die afskaffing van busdienste gelei en daarmee saam, publieke vervoer – veral na afskaffing van passassierwaens op die Port Elizabeth / Avontuur spoorlyn en – uitendelik – die sluiting van Twee Riviere stasie, saam met die spoorlyn self. Tot sy eer, het die Suid-Afrikaanse Posdienste die Twee Riviere posagentskap nietemin toegelaat om voort te gaan om die gemeenskap te dien tot so laat nog as 1989.

Onvermydelik is selfs hierdie poskantoor se deure finaal gesluit in 1989, toe besluit is dat die buurdorp Joubertina eerder maar vir Twee Riviere ook sal bedien. Hierdie verlies van posdienste het natuurlik ook gelei tot die opskorting van Twee Riviere se poskode – en daarmee saam die verbreking van die laaste oorblywende skakel met die voorafgaande 120 jaar van posdienste waarmee hierdie gemeenskappie die distrik bedien het. En so, byna geluidloos, het die feite van ‘n lang en trotse verlede buite sig verdwyn, en daarmee saam – geleidelik – ook die herinneringe en erkenning van gemeenskapswaardes en identiteit. Hierdie finale breuk met die verlede het toegelaat dat die klein baanbrekerdorp se lang en onverskrokke geskiedenis geleidelik in vergetelheid verval het, des te meer met die afsterwes van senior inwoners wat daardie jare self ervaar het en nog kon getuienis lewer…

Die huidige herlewing en herstel van hierdie historiese posagentskap roep in herinnering Twee Riviere se deurslaggewende, vroeë rol in die totstandkoming en diens van die Langkloof distrik se posroete. In besonder gedenk dit sy volgehoue ​​en edel bydrae gedurende die 1800’s: ‘n Eeu waartydens Twee Riviere eiehandig die fakkel vir hierdie distrik gedra het.

Een van die oorspronklike agentskap se, leer-gebonde winkel joernale (wat terug dateer na 1879) word deesdae binne die oorspronklike perseel ten toon gestel onder kuratorskap van die Instituut, en etlike ander argivale rekords kan ook daar gevind word. Die oorspronklike handelaars- en poskantoorgebou, is sedert restourasie in 2009 deesdae in gebruik as kampuskafeteria, en ook weer toeganklik vir die gemeenskap – na ‘n onderbreking van meer as twee dekades.

Die storie van Twee Riviere se Poskantoor verteenwoordig maar ‘n enkele hoofstuk in die verhaal van Twee Riviere se stelselmatige herwinning, en die herlewing van ‘n byna vergete identiteit…

Twee Riviere Poskantoor, Tel: 042 273 1089, Geleë by: The Belfry Kitchen, Hoofweg, Twee Riviere of postoffice@sainst.org
Ure: Maandag – Vrydag 08h30 – 18h00 (Private posbusse toeganklik te alle tye)