In 1937 het ons prinsipaal, mnr. Longland, besluit om gedurende die September-vakansie met ’n groep van ons skool Baai toe te gaan. Ons moes, na die besluit geneem was, binne ’n week name opgee wat wou saamgaan. Daar was een en dertig name en mnr. Longland het dadelik begin reëlings tref. Oom Gielie Bokkie sou sy rooi Dodge-lorrie gee en oom Hans van Wyk sou die bestuurder wees. Oom Naas en ant Lenie sou saamgaan as ouers. Oom Naas se dogter, Meraai, sou ook saamgaan. Sy en oom Hans sou saans die volkspele lei. Oom Hans het na Meraai gevry. Ons sou op Humewoodstrand tussen die rooipitjiebosse gaan kamp opslaan. Daar is weke lank haarfyn beplan aan die kosvoorrade, slaapgoed en hoeveel sakgeld elkeen moes saamneem. Mnr Longland wou al die Saterdag na die skool gesluit het, ry, maar oom Naas het verseg om met een en dertig ape oor ’n naweek in ’n stad te bly. Ons sou dus die Maandagoggend so om en by nege-uur vertrek. Daar sou twee oplaaipunte wees: een by die skool, die ander by die rollermeul. Daardie Maandagoggend het dit meet en pas gekos om die kosvoorrad, beddegoed en een en dertig wilde kinders indie lorrie te kry. Meraai sit voor by oom Hans. Oom Naas en ant Lenie ry saam met mnr. Longland en sy vrou.
Toe ons Kromrivier se draaie anderkant Heights begin vat, begin ’n paar van die seuns vaal om die kiewe raak en nie wanneer nie, of hulle begin sluk en sluk. Hulle adamsappels werk naderhand op en af, kompleet soos die arms van die smalspoortreintjie se wiele, maar hulle kry blykbaar nie afgesluk dit waaraan hulle besig is om te sluk nie. En toe sien ons twee van hulle sit hand voor die mond, maar dis reeds te laat. Hulle het klaar begin kots! Daar word hard op die lorrie se kap gehamer en oom Hans hou stil. Toe hy hoor waarvoor ons hom gestop het, is hy vies en hy reël dat die wat motorsiek word, heel agter moet sit sodat hulle sommer in die ry kan kots. En daar gaan ons weer. Die ouens wat siek is, kots so dat die hele lorrie later soos ’n asynvat ruik. By Essenbosch kom ons om ’n skerp draai toe ’n ander lorrie reg van voor op ons afkom. Gelukkig kry die twee bestuurders dit reg om byna buffer teen buffer stil te hou. Oom Hans is asvaal geskrik, maar die ander bestuurder klin uit sy lorrie, so hardekoejawel as wat kan kom. Hy’t net op oom Hans begin skel toe mnr. Longland agter ons stilhou en oom Naas uitklim en met sy mank been vorentoe kom. Hy het die jong bestuurder van bo na onder bekyk, hom aan sy skouer gevat en gevra:
“Ou seun, is jy nie Vaal Naas van Two Streams se seun nie?”
“Ja, dis reg, Oom. Dag, Oom.”
“Nou ja, stoot jou pa se lorrie terug dat ons kan verbykom. Dis ver Baai toe. En sê vir jou pa, Naas Wit Andries stuur groete. Sê vir hom dit gaan maar krimineel by ons.”
Ons ry verder. Dit gaan goed, behalwe vir die paar wat nog heelpad kots. In Van Stadenspas hou oom Hans stil en beveel al die kinders om af te klim, hulle bene te rek en hulle lope te loop. Dit neem meer as ’n halfuur voor almal weer op die lorrie is. Oom Hans is bekommerd oor die wat so kots, maar Kokkernal verseker die oom dat hulle nie meer lank kan kots nie, want dis nou net water wat uitkom.
Net na drie-uur hou ons op Humewoodstrand stil en almal klim af. Daar staan al ’n lorrie met ons tente. Daar is vier man by die lorrie en hulle begin dadelik om ons tente op te slaan; die meisies s’n eenkant en die seuns s’n anderkant. Oom Hans het sy eie tent, Meraai het haar eie tent, oom Naas en ant Lenie het ’n tent en mnr. en mev. Longland het hulle eie tent. Ons wil help, maar is meer in die pad as wat ons help. Mnr. Longland sê ons moet maar los, die mense ken hulle werk. Ons verken toe maar die omgewing. Kort-kort loop ons ’n jong rooipootjieskilpad raak. Dit wemel letterlik van die goed. Wat ons ook baie sien, is hierdie ou groot geel romanspinnekoppe of baardskeerders. Dan kom daar ’n roomyskarretjie met die klokkie al luiende verby en soos een man sit ons af pad toe. Elkeen koop ’n pennie-roomys, behalwe ou Skilpad wat ’n trippens-roomys koop. Hy haal die papier af en gee ’n allemintige byt in die ding. Hy skree net: “Sies, magtig,” en gooi die hele roomys weg in die sand. Die ander spul sak op die roomys toe en spook so dat nie een iets daarvan kry nie.
Toe alles na mnr. Longland se sin ingerig is, is dit ook tyd om met die kosmakery te begin. Daar is ’n groot tent net vir die kombuis opgeslaan. Die meisiekinders word in vyf spanne gedeel om te help met die kosmaak, asook met die skottelgoed was. Ant Lenie kook daardie aand vir ons die lekkerste boontjiesop denkbaar met heerlike toebroodjies daarby. Ons kan nie anders as om op te merk hoe ’n handige meisiekind Tertia van oom Thys Bos is nie. Sy vat oral raak en is ’n ware voorslag, nou hier, dan daar. Na aandete hou oom Naas vir ons huisgodsdiens. Mnr. Longland besluit dat ons vanaand maar hallelujaliedere sal sing en nie nog volkspele ook sal speel nie aangesien die kinders ’n lang dag agter die rug het. Ek dink oom Hans en Meraai was baie bly oor daardie besluit. Na die samesang gaan almal ablusieblok toe en daarna gaan kruip ons in. Die ligte was nog nie dood nie toe ’n onaardse gil die nagstilte skeur. Kokkernal het regop gespring en hou sy bors vas. Sy oë staan stokstyf in hul kaste. ’n Yslike roman het bo by sy slaapbaadjie se kraag ingekruip en hy los die een gil op die ander. Oom Hans is eerste daar en hy ruk die slaapbaadjie oor Kokkernal se kop. Die spinnekop is so verfrommel dat hy hom weer moet gaan was. Toe hy terugkom, weier hy om in die tent te slaap. Hy sê vir oom Hans hy gaan op die lorrie slaap. Sy drie maats tou agter hom aan en hulle gaan maak bed op op die lorrie. Die res van die nag verloop sonder voorval.
Die volgende oggend na ontbyt moet ons weer almal op die lorrie klim. Ons gaan vanmôre General Motors toe om te gaan kyk hoe motors gemaak word. U moet in gedagte hou dat net ses van die een en dertig kinders tot op daardie stadium al in die Baai was. Op pad na die hoofstraat kom ons ’n naderende trem teë. Een van die seuns skree:
“O hel, manne, hier kom ’n trein in die straat op. Vandag trap die ding ons vrek!”
Ons is nou so nuuskierig om te sien wat daar te sien is, dat al een en dertig koppe onder die tentseil oor die lorrie se kante uithang. Wie die nuuskierigste was van ons of die mense in die straat, weet ek nie, maar hulle het hulle ten minste net so verwonder soos ons. Dit was amper tyd vir middagete toe ons van General Motors af terugkom op Humewood en ant Lenie en Meraai was feitlik gereed met die kos. Die namiddag is ons na die Setlaarsmonument toe. Dit kos rond en bont ry om ’n parkeerplek te kry. Toe ons afklim, rek ons oë toe ons die vreeslike hoë gebou voor ons sien. Die gebou is honderd ses en sewentig voet hoog en ’n wenteltrap lei jou tot bo. Mnr. Longland sê nog ons moet tel hoeveel trappies die wenteltrap het, maar toe ons bo kom, stem nie twee se getalle ooreen nie. Heel bo is ’n platform wat borshoogte toegebou is. Toe ons daar afkyk, het iemand sommer in Meneer se teenwoordigheid boontoe geroep en byna sy nek afgeruk. Die uitsig daar van bo af oor die stad was werklik verruklik as jy nie te vrek bang was om te kyk nie. Party van die kinders wat so ewe kordaat in die gebou opgestap het, het met die afkom meer gekruip as gestap. Ons is vroeg daardie aand by die kamp. Dit gaan jolig, want daar word speletjies soos aspaai, vrot en nog vele ander gespeel. Daar word gesing en stories vertel. Oom Naas het ’n hele skatkis vol stories en kan pragtig vertel.
Elke dag besoek ons ’n ander plek. Ons wonder hoe oom Naas die plekke kry en dan weer sy pad terugkry na ons kamp. Een oggend besoek ons ’n lekkergoedfabriek – Pyotts. Ons sien hoe die verskillende soorte lekkers en koekies gemaak word, maar ons stel meer belang in die kiste lekkergoed by elke hoek. Daar word ook aan ons gesê ons kan daarvan eet soveel soos ons wil. Ek dink nie dit was so ’n goeie ding nie, hoewel almal baie in hul skik was. Natuurlik het dit nie lank geneem nie of ons begin ons sakke ook vol stop. Toe die lekkergoed egter in ons sakke begin smelt, moes ons dit maar stilletjies probeer terugsit. Een van ons geliefkoosde lekkers was “bulls eyes”, maar nadat ons gesien het hoe dit gemaak word, wou ons nie weer ons monde daaraan sit nie. Daardie middag wou niemand van ant Lenie se kos eet nie. Toe daar twee-uur weer gery moet word, voel almal so olik dat dit afgestel word.
Ek wil hier sê dat ons nie baie gelukkig was oor die feit dat Kokkernal en sy maats op die lorrie geslaap het nie. Ons het by oom Hans loop kla, maar hy het gesê hy kan niks daaraan doen nie aangesien Meneer sy toestemming gegee het. Maar hy het met ’n blink voorstel gekom. Hy vra ons wat hulle uit die tent gejaag het.
Ons sê: “’n Roman.”
Hy sê: “Nou ja, laat die romans hulle dan ook uit die lorrie ja.”
Ons het by ant Lenie ’n papiersak loop soek en net gou het ons elf baardskeerders in die sak gehad en toegebind. Die aand toe hulle ablusieblok toe is, het ons die spinnekoppe op die lorrie se bak gaan uitskud. Toe hulle terugkom, het hulle dadelik ingekruip. Ons wag in spanning, maar niks gebeur nie. Hulle kers is naderhand dood, maar nog bly alles rustig. Soos te verstane, was ons bitter teleurgesteld, maar die volgende oggend toe oom Naas die opstaanklok lui, klim hulle nie van die lorrie af nie, maar kom uit hulle tent gestap. Ons was so in ons skik met oom Hans se plan dat ons vir hom gaan sê het ons sal nie meer vir oom Naas gaan sê ons het gesien hoe hy die vorige aand vir Meraai voor haar tent gesoen het nie. Oom Hans het verleë gelag en gesê hy dink nie dit sal saak maak as ons tog vir oom Naas gaan vertel nie, want hy het ’n idee dat die oom dit reeds weet.
Die volgende oggend is ons museum toe. Sommer by die ingang is die pragtigste insekteversameling denkbaar. Langkloof is nie ryk aan skoenlappers nie en hier sien ons nou voor ons oë die allermooiste soorte skoenlappers op kurkborde gemonteer. Ons kan maar nie daar wegkom nie. Meneer kom jaag ons aan en sê die museum is groot, ons moenie te veel tyd op een plek bestee nie. Ons gaan verder en kom by ’n afdeling waar net opgestopte diere is. Ons sien diere waarvan ons nog nooit gehoor het nie. By die eierafdeling sien ons eiers wat twee keer so groot soos ’n volstruiseier is. En toe kom ons by die geraamte-afdeling. Die eerste waarop ons oë val, is dié van ’n dinosourus. Skilpad het die ding lank gestaan en bekyk en toe sê hy: “Dis bleddie nonsens, ’n mens kry nie sulke groot hotnotsgotte nie. Die mense maak gekke van ons.” Toe iemand hom beduie na die walvisgeraamte wat bo ons koppe van die dak af hang, was die gort behoorlik gaar en hy’t sy ongeloof luidkeels te kenne gegee. Die namiddag by die slangpark was dit nog ’n groter moles. Ou Skilpad was ’n sieklike en tengerige seun en hy het in ’n baie godsdienstige huis grootgeword. Toe hy die hordes verskillende slange sien en boonop sien hoe ’n swartman die goed hanteer en met hulle speel, was dit vir hom een te veel. Hy het hard aan almal vertel dat dit teen die bybel is om die goed so op te gaar, want die Boek sê die mens moet die slang se kop vermorsel, anders sal hy jou in die hakskeen pik. Skilpad is so boos, hy wil net al wat slang is, vrekmaak. En daar sien ek ’n ou bekende. Ek het af en toe slange gevang en slangpark toe gestuur in houers wat hulle voorsien het. Die vorige somer het ek ’n groot vet pofadder met ’n merk skuins oor sy rug op Koedoesevlei gevang. En hier lê ta uitgestrek op die grasperk. Ek gaan roep oom Naas en beduie na die pofadder. “So by my siel, Wit Andries, dis mos die pofadder wat jy verlede somer gevang het toe ons die Bon Chretiens op Koedoesevlei water gelei het.” Ek het gevoel of ek die slang moes gaan soen.
Dis tog snaaks watter gevoelens deur ’n mens gaan as jy iets of iemand bekends in die vreemde raakloop. Jare daarna het ek dieselfde gevoelens ervaar. Ek was student en ver van huis. ’n Sekere mnr. Wilkie van Steynsburg nooi my om die Septembervakansie by hulle in die distrik deur te bring. Hulle plaas het aan oorlede president Paul Kruger se geboorteplaas gegrens en aangesien die plaas onbewoon was, het daar net jakkalse uitgebroei. Ons sou die hele vakansie net jakkalse jag. Die omliggende boere is ook daar. Ek tel twee en veertig honde. Die tweede dag wat ons jag, vra ek ’n ou kleurling hoekom ons dan nog nie eers ’n jakkals gesien het nie.
Hy sê: “My basie, hierdie honde is nikswerd. As ons nou my wêreld se honde hier gehad het, het ons al ’n paar jakkalse gehad.”
Ek vra hom waar sy wêreld is.
Hy sê: “Ag basie, dit sal nie help ek sê jou nie. Dis so ver dat jy nog nie van daardie plek sou gehoor het nie.”
Ek sê nee, hy moet darem sê, dalk weet ek.
“My basie, hulle roep die plek Kouga.”
Ek sê hom ek ken al die boere in Kouga en begin hulle name vir hom opnoem. Toe ek sien, huil die ou man snot en trane. Ek het die heeldag saam met die ou geloop en die aand was die versoeking groot om hom te vra of ek nie by hom kon gaan slaap nie.
Om terug te keer na die Baai. Ou Skilpad se bui het begin sak toe ons wegbeweeg van die slanghokke met die watervore aan die binnekant. Ons loop toe onder ’n afdak deur met glaskaste in die mure en in elke kas is ’n slang. Agter een van die struike in ’n groot kas kom ’n bont slang uit, so dik soos ’n grootman sy bo-been en met ’n kop so groot soos ’n piering. Skilpad het met sy arm teen die glas loop en skuur en het nooit die slang opgemerk nie. Toe hy die slang gewaar, het hy net een keer boontoe geroep en laat spat. Oom Naas het hom gevang waar hy by die hekke wou uit straat toe en hom tot bedaring gebring. Maar ons kon almal sien die slangpark staan hom glad nie aan nie. Die museum en slangpark het ons hele dag in beslag geneem.
Die volgende oggend het ons gaan kyk hoe dit in ’n groot winkel lyk. Ons was sprakeloos. Die winkel beslaan ’n reuse-oppervlakte en dan is daar nog die een vloer bo die ander. Daar sien ons toe vir die eerste keer ’n roltrap. Ons staan en kyk hoe die mense op en af ry met die goed en net daar storm almal op die roltrap af om ook te gaan ry. Die mense lag so vir ons dat die klerke naderhand hulle poste verlaat en kom kyk wat aangaan. Val of nie val nie, ons ry eenkant op en anderkant af. Dis ’n gedrang rondom ons soos die mense staan en kyk. Kort-kort hoor ons iemand sê: “Oh shame”, en dan lag dit maar weer. Ons het onsself uitgery in daardie winkel. Toe ons by die kampplek kom, vra ons vir oom Naas: “Oom, wie’s die Ou Sjeim van wie die mense so gepraat het?”
Oom Naas sê: “Ek ken hom ook nie. Vra vir mnr. Longland, hy sal seker weet wie dit is.”
Daardie namiddag gaan ons fliek. Tot op daardie stadium was nog nie een van ons al in ’n fliek nie. Mnr. Longland het sommer ’n gesamentlike kaartjie vir ons kinders gekoop en ’n man lei ons tot heel voor in die gebou waar hy ons maak sit. Ons is die ene oë en kyk kort-kort om om seker te maak oom Naas en mnr. Longland-hulle sit nog daar in die agterste stoele. Ou Jer sit langs die paadjie. Toe die voorprente begin, kom ’n trein reg op ons afgejaag. Ou Jer kon dit nie hou nie en hy spring uit sy stoel op en neem die loop in die paadjie op.
Oom Naas gryp hom in die verbykom en sê vir hom: “My magtie, na wie aard jy? Jou pa skrik vir niks op aarde nie en jy hardloop vir kou pampoen.”
Ou Jer sê: “Oom Naas, die trein gaan ons vrek trap, almal van ons.”
Die mense skree en klap hande en oom Naas sleep ou Jer weer tot heel voor en druk hom plat in sy stoel. Die mense klap hande en staan op en oom Naas kry die grootste ovasie wat enige Langklower seker nog ooit gekry het. Voor hy gaan sit, maak hy ’n plegtige buiging, eers na voor en toe na weerskante. Toe klap die mense eers hande. Van die prent weet ons niks en die mense seker ook nie. Maar ek is seker as daardie prent môre weer speel en ons is daar, gaan koop almal weer ’n kaartjie.
Daar was nou nog net een plek waarheen ons sou gaan. Die volgende oggend is ons na die Baai se dokke toe. Ek dink dit was vir elke kind die hoogtepunt van ons toer. Ons het ons absoluut vergaap aan die pragtige bote wat in die dokke lê, asook aan die groot hyskrane wat die skeepsvragte op- en aflaai. Ons het ons so verwonder dat iemand ons kort-kort moes kom waarsku om nie in die pad van die hyskrane te kom nie. En watter verrassing kry ons nie toe die kaptein van die Stirling Castle ons aan boord nooi en ’n offisier ons deur die hele skip, van die bodek tot in die kombuis en enjinkamers, rondneem? Soveel luukse het ons nog nooit gesien nie. Daar is selfs ’n swembad op die dek. Toe ons die hele skip deur is, nooi die kaptein ons persoonlik om saam met hom te gaan tee drink. Die skip se eetkamer is ’n enorme plek en al ons kinders maak nie eers ’n vaal kol daarin nie. Ons geniet die heerlikste koekies saam met die tee. Die besoek aan die skip met sy vriendelike kaptein het ’n baie groot indruk op al wat kind was, gemaak.
Na hierdie besoek moes ons gaan kamp opruim sover ons kon, want die volgende môre sou ons terugry Twee Riviere toe. Ons toer het darem ’n gelukkige einde gehad – oom Naas en Meraai is kort daarna getroud.