Ek het reeds gemeld dat ons niks gekoop het wat ons self kon maak of produseer nie. So was dit oo met tee. Teen die noordelike hange van die Tsitsikammaberge het volop heuningtee tussen die fynbos gegroei. Ek lees dat die plant tot die Cyclopia spesie behoort en deel van die peulplantfamilie is.Heuningbostee het ’n baie smaaklike en aromatiese geur en bevat geen kafeïen nie en bloedwienig tannien of looisuur, baie minder as oosterse tee. Waarom sou ons dan nou oosterse tee loop koop as ons ons eie
inheemse tee kon maak?
Ons het altyd met ’n muilwa Vlakte toe gery. Die grootmans het die tee gesny en ons seuns moes bondels maak en aandra wa toe waar een man die vrag gelaai het. Sodra die vrag vol is, sit ons af plaas toe. In die langhuis word die tee afgelaai. Na aandete is al wat leef in die pakstoor, want dis nie net ’n werkery nie; dis ook ’n gejil en geterg en bowenal oom Naas se stories uit sy togrydae. Die tee word eers in klein bossies bymekaar gevat en met die huis (agterkant) van ’n handbyltjie goed gekneus. Dis maar ’n langsame proses. Die kneusery kan jy nie afskeep nie, want dan wil jou tee nie trek nie. Terwyl ’n klompie mense die blare kneus, is ’n ander span besig om die gekneusde tee met ’n kerfmasjien op te kerf. Later het die kerwers ’n speletjie van die kerwery gemaak. Die kerfmasjien het ’n groot wiel gehad met ’n handvatsel waaraan jy moes vat as jy die masjien draai. Die kerwer het twee vlymskerp lemme gehad. Die mans het twee osrieme gevat en aan die handvatsel vasgemaak. Een sit hierdie kant en die ander aan die anderkant. Nou begin hulle om die beurt hul osrieme op so ’n manier trek dat hulle nie teen mekaar trek nie. Die tydsberekening moet perfek wees vir hierdie metode van kerf. Die tee wat klaar gekerf is, word in skoon suikersakke gestop. Die volgende dag word die sakkies tee op die solder gedra, liggies aangeklam en opmekaar gestapel. So moet die sakke ’n paar dae lê om te sweet. Sodra die sweetproses klaar is, word die sakkies oopgemaak en die tee egalig op die skoon soldervloer uitgegooi om te droog. Iemand wat nog nie in die somer op ’n solder was nie, sal nie glo hoe versengend warm dit op so ’n solder kan word nie. As die tee nou mooi bruin gedroog is, word dit bymekaar gemaak en weer in die suikersakkies gestop. Jy hou vir jouself soveel as wat nodig is. Die res word verkoop. Ek kan ongelukkig nie meer onthou aan wie ons die tee verkoop het of waarheen die tee gestuur is nie. Ek kan net sê dat ek vandag nog die heuningbos bo enige ander tee verkies. Wanneer jy heuningtee maak, gooi jy nie die blare weg nie. Die teepot met blare bly op die stoof staan met ’n bietjie water daarop. Wanneer jy weer wil tee maak, gooi jy net ’n lepel tee en genoeg water by en laat dit staan en kook op die stoof. Met heuningtee word ’n mens nooit haastig nie. Hoe langer dit trek, hoe lekkerder smaak dit. Ek kan net een ding ten nadele van heuningtee sê; die ding gee jou ’n geweldige eetlus.
In daardie ou langhuis het ons baie pret gehad. Sommige jare het ons in Klein Langkloof mielie op droëland geplant. Wanneer die mielies geoes word, word dit ook in die langhuis afgepak. Saans is almal weer daar bymekaar – al die huisgesinne. Dan word die mieliekoppe skoongestroop van die blare. Ongelukkig het dit dikwels gebeur dat daar rroimiere onder die blare was en dié goed kon geniepsig byt. As die miere onder die mans se broeke ingekruip het, was daar chaos, want as die miere begin byt het, het die man somaar nou-nou uit sy broek geklim en hulp gevra. Dan moes jy die vrouens hoor spot – gewoonlik met die mans se dun wit beentjies – of hoe ’n groot man hom so van ’n klein dingetjie soos ’n mier kon laat rondgooi. Daarop het oom Naas gewoonlik net gesê: “Dit gaan maar krimineel.” Daardie miere het teen ons mans gediskrimineer, want ek kan nie onthou dat hulle ooit die vroumense gemolesteer het nie.