Oom Klasie Pieter was in bevel van die dorsery en wat hy gesê het, was wet. Hy het gesê waar begin gaan word en hoe die dorsroete gaan loop. Ons het gewoonlik net na Nuwejaar begin dors. Elke man moes met sy eie mense en trekgoed die dorsmasjien tot by sy mied bring. As jy klaar het, is dit die volgende man se taak om die dorsmasjien na hom te kom haal. Die dorsmasjien word styf teen die mied getrek en die wiele word so 50 mm diep in die grond laat sak sodat die masjien stewig en waterpas staan. Nou word die stoomenjin reg agter die dorsmasjien getrek. Sy dryfwiel moet in ’n absolute regte lyn met dié van die dorsmasjien wees. Die belt word opgetrek en dan word die stoomenjin styf agtertoe getrek sodat die belt lekker styf span. Jy toets gou of die belt sekuur loop en dan word die stoomenjin se wiele ook in gate laat sak en met keile en voorhamers stewig geanker sodat die belt nie kan pap word nie. Die stoomenjin se tenk word vol water gedra. Môreoggend vroeg begin een van die volk die stoomenjin stook, want ligdag moet daar stoom wees. Hierdie stoomenjin was byna so groot soos die smalspoortreintjie se lokomotief en het nogal byna so gelyk ook. Ja, en hy kon ook fluit. Dorstyd was die vuilste tyd van die jaar, maar sekerlik ook die plesierigste tyd. Die vrouens en meisiekinders bak al ’n paar weke lank klein koekies en beskuit en maak groot kanne gemmerbier, koringbier en sider. Die watersakkke hang elke dag vol water in die koelte, want dorstyd is ’n dorstige tyd en g’n man drink warm water by die dorsmasjien nie. Ons ontbyt kom mied toe en ons elfuur koffie of tee of koeldrank kom ook mied toe. Twaalfuur gaan almal by die huis eet en eenuur trek oom Klasie die stoomketel se fluit. Dan moet elkeen weer op sy pos wees. Om vieruur bring die vroumense weer eet- en drinkgoed.
Daar was gewoonlik so sestien of agtien mense nodig om te dors. Dis nou behalwe ons ses stuks seuns wat water aandra vir die stoomenjin. O magtie, maar daardie ding was nou snoep oor water! As die water ’n bietjie ver van die mied was, moes ons water dra dat ons die kromme note haal. Teen die tyd dat ons klaar gedors het en die skole moet heropen, is ons voete in ’n haglike toestand. Oom Klasie het altyd gesê jy kon maklik ’n halfkroon in die barste in ons voete steek. Om jou voete weer enigsins respektabel te laat lyk, moet jy gereeld ’n mengsel van kersvet en lampolie aansmeer en saans ou sokkies aantrek om nie die beddegoed te besmeer nie. Maar ek kan dit sê: Daardie kersvet en lampolie doen wonderwerke! Outa Jan Lalie staan bo-op die dorsmasjien in die gat by die voerbak. Hy bly aan die ronddans in daardie gat, gooi sy lyf nou na links, dan na regs en hy voer daardie dorsmasjien dat jy eintlik kan sien hoe lekker hy kry. Links van hom sit ’n man met ’n kort sekeltjie en sny elke gerf vir hom los. Twee ander gooi elke gerf voor die lossnyer. Twee is op die mied en hulle gooi die gerwe van die mied op die dorsmasjien. Oom Klasie sit op die vol sakke wat klaar toegewerk is die wêreld en bekyk en beluister. Die oomblik wat iets verkeerd loop, hoor hy dit. En deurentyd vang outa Jan Lalie met sy oë na oom Klasie se kant om te sien of hy nog na sy oubaas se sin voer. Tussen hulle is nie woorde nodig nie. Hulle ken mekaar as ’n span. Oom Klaas is in elk geval ’n man van bitter min woorde. Op die oomblik gaan dit heel lekker met die twee man op die mied, want hulle gooi van bo na onder, maar as die mied eers laer as die dorsmasjien is, loop die sweet gou en dis nie lank nie of die salpeter slaan tussen hulle skouerblaaie uit. By die bakke waar die gedorste koring uitval, staan ’n paar man. As ’n sak vol is, moet twee die sak onder die bek uitsleep en ’n leë sak in sy plek aanhaak. Nog een is met ’n seilnaald en seilgare besig om die vol sak toe te werk. Een man staan met ’n paraffienblik vol koring om die sakke goed vol te maak terwyl nog een met ’n stamper die koring in die sak vasstamp. Die twee man wat die vol sakke onder die bek uitsleep, moet ook die toegewerkte sakke wegdra en op ’n hoop pak. Hulle vat mekaar se hande en sit hulle arms bo-oor die sak sodat elkeen ’n arm agter die sak het. Met die ander hand dop hulle dan die sak om oor hulle arms en vat elke man die sak met die los hand aan die onderpunte. So dra hulle die sakke op hulle arms hoop toe. Daar is nog twee man wat met vurke die kaf onder die masjien wegkrap. Drie man met osrieme sleep die strooi weg. Daardie ou masjiene het nog nie blasers gehad wat self die strooi en kaf weggeblaas het nie. Onder in die bek waar die strooi uitkom, sit ’n spyker. Jy haak jou osriem se ring in daardie spyker en laat jou osriem slap lê tot op die grond. Soos die strooi uitkom, pak jy dit in die osriem tot die riem vol is. Dan haak jy die riem se ring uit die spyker, trek die bondel strooi vas met die riem en sleep dit weg. Daar’s nêrens tyd vir laat slap lê nie. Elke man moet sy kant bring. Dis harde werk, maar dit lyk of almal dit geniet, behalwe ons wat water dra.
Een jaar na die dors, sê ek vir my medewaterdraers ek gaan nooit weer water dra nie, ons moet ’n ander plan maak. As dit nog soos by oom Okker Hannie is waar die water redelik naby is, is dit goed en wel, maar by party miedens is die naaste water maar ver. Ons besluit om vir ons ’n ploegwielkar te maak met ’n konka op om die water mee aan te ry. Ons begin sommer dadelik om ons plan ten uitvoer te bring sodat ons vervoer gereed is vir die volgende jaar. Net gou het ons ’n ou Olivier-ploeg se twee wiele en ’n as. Met behulp van oom Gert Wetter het ons die stellasietjie op die as laat vasbrand om die konka op te lê. Die oom sit sommer vir ons ’n disselboom ook aan. Toe nader ons oom Gielie vir ’n drom. Hy wil eers weet wat ons nou so skielik met ’n drom wil maak. Toe hy hoor van ons plan, gee hy ons ’n lekker sterk drom en die drom het nogal ’n kraan waar ons die water kan uittap. Die drom is stewig op ons ploegwielkar gemonteer en ons was gereed vir die volgende jaar se dorsery. Lank moes ons wag voor ons ons kar kon gebruik, maar toe ons dit wel begin gebruik, raak die waterryery vir ons louter plesier. Ons deel selfs in twee spanne. Die een span ry drie dromme water aan. Dan weer die ander span ook drie dromme. Oom Gielie is so in sy skik dat hy ons een oggend al ses nader roep en ons elkeen ’n tiensjielingnoot (R1,00) in die hand stop. Van toe af het ons die swartmerrie, soos ons die stoomenjin genoem het, se dors geles. Ons kontrepsie het net een nadeel gehad. As die drom leeg is en ons hardloop met die kar water toe, het die ding geraas dat hoor en sien vergaan. Ons het ons egter bloedwienig daaraan gesteur.
Een jaar net voor dorstyd raak outa Jan Lalie siek en moet Baai se hospitaal toe. Oom Klasie moet ’n ander assistent kry. Sy keuse val op Wit Gert, ’n groot sterk basterjong. Ons het hom almal goed geken en almal was bekend met sy reusekrag. Wit Gert het niks daarvan gemaak om twee sakke koring gelyktydig teen die solderleer uit te dra nie. En dit was nie mudsakke van 203 pond (85 kg) nie. Dit was masjiensakke van 250 pond of so 105 kg elk. Nee, Wit Gert was ’n sterk man. Die dorsmasjien staan by oom Naas se mied, maar die koringmied is klaar gedors. Wat nou in die ander mied is, is tweerytjies gars. Ek weet nie wie van u bekend is met tweerytjies gars nie. As hy vet is, kan hy ongelooflik skiet. En hierdie gars van oom Naas was vet, so vet as wat graan kan kom. Oom Klaas het Wit Gert die oggend voor ons begin, geroep en vir hom gesê hy sal vanmôre mooi stadig moet voer of die bakke gaan aanmekaar oorloop. Ons begin. Dit was nie tien minute nie, toe is dit so. Die bakke kan die gedorste gars nie alles wegvat nie en die gars loop oor. Oom Klasie stop die masjien. Hy sê weer vir Wit Gert om stadig te voer. Maar binne enkele minute is dit weer so. Oom Klaas roep vir Wit Gert nader en sê vir hom dat hy hom gaan opdons as die bakke weer oorloop.
Wit Gert gee so ’n smalende laggie en sê: “My baas, ek het nog nooit ’n witman gesien wat my kan pak gee nie.”
Die oom sê vir hom: “Wit Gert, daar’s altyd ’n eerste keer.”
Oom Klaas was ’n man van bitter min woorde en baie geduldig. Hy het voorheen uit die Kouga gekom en daardie Kouga-manne het vir ons vertel oom Klaas steek ’n vieslike reguit regter weg. Maar hulle het nie nodig gehad om dit vir ons te sê nie! Ons het hom almal goed genoeg geken. Wat daardie oggend oor Wit Gert se lewer geloop het, sal niemand weet nie, maar dit was gou duidelik dat hy besig was om oom Klaas te tart. Dit was nie Wit Gert se gewoonte nie. Hy’t nooit moeilikheid gesoek nie. In elk geval, sommer net gou loop die bakke totaal oor en Wit Gert wag nie vir oom Klaas om na hom te kom nie. Hy kom self. Maar hy maak die grootste fout van sy lewe toe hy vastrap en na oom Klasie slaan. Die oom vee daardie hou van Wit Gert met sy linkerhand opsy soos ’n mens ’n lastige tak voor jou wegdruk. Die volgende oomblik tref die oom se regtervuis vir Wit Gert tussen die oë. Die oom lig hom letterlik van sy voete af en Wit Gert lê uitgestrek op die naat van sy rug, so uit soos ’n kers.
Outa Pompie sê: “Jirre, het die baas hom met die bojaanspanner geslaat?”
Oom Naas sê: “Nee Pompie, Wit Gert het in die baas se Kouga-vuis vasgeloop.”
Daar naby die mied staan ’n verdwaalde wattelboom. Oom Klaas beveel die manne om Wit Gert in die boom se koelte te gaan neerlê. Hy sê outa Pompie aan om te gaan voer en die dorsery gaan voort. Omtrent ’n halfuur later kom Wit Gert ewe druipstert na oom Klaas gestap, gaan sit op sy knieë voor oom Klaas, vat met sy hande om die oom se bene en sê: “My baas, jy is my baas. By jou wil ek doodgaan.”
Die oom sê: “Wit Gert, jy’s ’n uitstekende werksman. As jy eers geleer het om gehoorsaam te wees, sal daar nie beter wees as jy nie. Maar ek is jammer, ek het nie vir jou werk deur die jaar nie. As die dorsery klaar is, het ek regtig nie meer werk vir jou nie.”
Daar het nie weer ’n pit gars oorgeloop nie en toe ons klaar gedors gehad het, het Wit Gert ons almal met die hand kom groet. Ek het hom nooit weer gesien of van hom gehoor nie.