Gedurende die Derde Grensoorlog (1799 – 1803) het Dawid Stuurman en sy Khoikhoi-bende Langkloof binnegeval, geroof en geplunder en boerewonings afgebrand so ver soos hulle gegaan het. Mense het hul plase net so agtergelaat en in die rigting van die Kaap, tot sover soos Groot-Brakrivier, gevlug. Danksy kommandant Tjaart van der Walt en sy manskappe is Stuurman en sy bendes teruggedryf Algoabaai se kant toe. Dit was dus vir Langklowers ’n gevoelige verlies toe Van der Walt in Augustus 1802 deur ’n Khoikhoi-kryger genaamd Boland in die Kougaberge noord van Karreedouw gedurende ’n geveg gedood is. Hierdie gebeure het nog lank by Langklowers bly spook. Die verhaal is van die een geslag na die ander oorgedra sodat baie van Langkloof se mense vroeg in die 20ste eeu steeds geweet het van die aaklige gebeurtenis.
Dis 1931. Weke lank loop daar al gerugte rond dat die Xhosa uit die Oos-Kaap Langkloof gaan binneval en aan die brand steek. Eers steur niemand hulle juis aan die stories nie, maar algaande word die gerugte dringender en intenser. Die skietkommando sowel as die plaaslike polisie waarsku die mense om nie te gerugte te ligtelik op te neem nie, want dis beter om voorbereid te wees as om onkant betrap te word. Hulle belowe om te doen wat hulle kan om die gemeenskap op hoogte van sake te hou. Intussen begin die mense die stories ernstiger opneem en veral die vrouens dring daarop aan dat die mans moet begin organiseer en beplan en voorberei. Die mans het egter nog baie ander ysters in die vuur en is langtand om iets te doen. Die vroumense begin naderhand paniekerig raak en die mans voel hulself gedwonge om darem so ’n bietjie aandag aan die saak te gee. Eerstens word sorg gedra dat niemand sonder wapens, kos en water betrap sal word nie. Sover moontlik, word gereël dat mense bymekaar sal slaap en die mees afgeleë mense sal nader trek sodra dit nodig skyn te wees. Daar word besin oor hoe die vrouens en kinders veilig gehou kan word. Die skietkommando nooi die mense wat nie gewere het nie om vir hulle ’n geweer te kom kry en word aangesê om toe te sien dat hulle genoeg koeëls het. Die plaasbestuur gee raad en doen algemene wenke aan die hand. Hulle sê byvoorbeeld dat elkeen wat ’n houtleer na sy solder het, dit moet verwyder sodat die Xhosa nie nog van bo af ook kan aanval nie. Die bestuur besluit om ’n aantal jong manne te bewapen om snags die gemeenskappe en veral die wapad te patrolleer, want die Xhosa sou glo met lorries en busse kom. Wat hulle wapens sou wees, kon ons nie te hore kom nie. Humansdorp en Karreedouw se polisiekantore is gevra om te laat weet as hulle miskien onraad sou merk.
Die dae gaan een na die ander verby sonder dat iets gebeur, maar een oggend word die mense aangesê om hulle deeglik voor te berei en in te grawe, want vannag gaan die nag wees. Die mense begin dadelik om hul huise so goed moontlik te verskans. Die arbeiders help almal met die voorbereidings en bied aan om hul base die nag te kom help om hul gesinne en besittings te verdedig, maar die boere voel nie om hulle arbeiders by die saak te betrek nie. Niemand kon sê of die Xhosa teen die arbeiders ook ’n saak het nie. Oom Hendrik brille, my pa se een broer, trek by ons in. Die grootste slaapkamer word spesiaal versterk vir die vrouens en kinders om in te skuil tydens die verwagte geveg. Die vensters word toegespyker met dubbele sinkplate. In elke venster word twee openinge op borshoogte gelaat vir skietgate. So word al die vensters rondom versterk. Die solderleer word ingebring en word gebruik om die voordeur ook met sinkplate te versper. Teen laatmiddag is dit nog net die agterdeur wat oop is. Terwyl die mans gaan melk en die diere versorg, begin die vrouens aandete maak. Ons kinders word aangesê om die kaggel vol brandhout te pak. Gelukkig het ons kraanwater in die huis. Na aandete is afgedek, skottelgoed gewas en boeke gevat. Daardie aand se boekevat sal ek nie ligtelik vergeet nie. Oom Hendrik se oë was maar nie te waffers nie. My pa lees uit die Bybel en oom Hendrik bid. Hy vra die Here om die nag oor ons te waak en ons te beskerm. Ek het nooit geweet oom Hendrik kon so mooi bid nie. Na boekevat word die agterdeur ook versterk en daarna word die gewere uitgehaal en op ’n sentrale plek neergesit. Die dosies met die koeëls word oopgemaak en in rye op die vensterbanke uitgepak – net reg vir vat en laai. Alles wat gedoen kon word, was nou gedaan. Al wat oorgebly het, was die wag. Dit sou ’n lang nag wees.
En dit was ‘n lang nag. Die vrouens en kinders is later na hulle gesamentlike fort, en het op die matrasse op die grond gaan lê. Van slaap was daar nie juis sprake nie. Die vrouens het kort-kort kom koffie maak, blykbaar net om iets te doen, maar daardie nag is regtig koffie gedrink. Oom Hendrik het later die nag vir ant Hannie gesê hy wil bietjie heuningtee hê, want sy lewer gaan ingee van al die koffie. Die jong boere wat gepatrolleer het was staatmakers, en hulle het belowe om waarskuwingskote te skiet sodra hulle iets gewaar, en dus was almal redelik op ons gemak. Na middernag het ‘n wind opgekom en al sterker begin waai. Meteens was daar ‘n geweldige slag, en oombliklik is almal helder wakker. Oom Hendrik skree “Japie broer, hier kom hulle” en hy gryp ‘n geweer en stoot ‘n koeël in die loop. My pa sê “Man sit neer die geweer, dis die soldervenster wat oopgewaai het”.
Alle nagte kom ten einde, en so het ook hierdie nag verby gegaan sonder dat iets gebeur het. Die wind het net so skielik gaan lê as wat dit opgesteek het, en die son het pragtig opgekom. Die vrouens het dadelik begin ontbyt maak, en daarna is weer dankie gesê dat ons die nag oorleef het. Net na sonop het ‘n ruiter gekom en gesê almal word aangeraai om maar die versterkings nog ‘n nag te hou. My pa an oom Hendrik is die huis uit om die diere te gaan versorg. Daar tref hulle die volkies aan, byna klaar met al die werk in die stal en in die kraal. Hulle vertel toe dat hulle die vorige aand vir die wis en die onwis ook maar hulle huise ontruim het en met hulle gesinne in die berg tussen die ysterhoute en tolbosse gaan slaap het.
Die volgende aand was maar weer dieselfde, alhoewel almal al baie geruster was. My pa het sommer reguit vir oom Hendrik gesê hy gaan nie weer soos ‘n gek regop sit nie, hy gaan slaap. En hy het. Hy was ‘n man wat kwaai gesnork het, en dit was nie lank nie of hy saag planke dat dit bars. Oom Hendrik het sy kop geskud en gesê “Liewe Heer, dat die man onder sulke omstandighede nog kan slaap gaan my verstand te bowe.” Maar ons het almal geweet oom Hendrik sou nie slaap nie! Die oggend toe my pa opstaan het hy gesê “Hendrik, ek is nou sat van heirde nonsens. Na brekfis begin ek opruim.” Na ontbyt het hy daad by die woord gevoeg, begin afbreek, en die volkies moes die goed wegdra. Daardie jaar kon jy tweede-handse sinkplate vir ‘n appel en ‘n ei te koop kry. En so het ons die tiende grensoorlog gewen!