Karrie of heuningbier is, soos die naam aandui, ’n drank wat gegis word van heuning. Dis aan Langkloof so eie soos die “bankrotwindjie” self. As ’n drank is dit deur ons mense baie hoog aangeslaan, nie alleen omdat dit lekker was nie, maar ook omdat dit ’n gesonde drankie is. Aangesien heuning volop was, kon almal wat wou, dit maak. Vandag hoor ek van mee, maar dis nie ’n woord wat lekker op ons tong lê nie; ons verkies maar nog altyd om van karrie te praat. Ons het grootgeword met karrie; almal het dit geken, maar almal se karrie was nie lekker nie. Party mense het te veel jongby bygesit, dan is die karrie bitter. Ander het weer glad nie jongby bygesit nie, dan is jou karrie te soet. My oupa kon hom maak, sowaar! Hy het die hand en die resep gehad. Nie dat hy die enigste was nie. Daar was baie mense wat geweet het hoe om karrie te maak en hulle het met mekaar gekompeteer.
Om karrie te maak, vat jy ’n klompie heuningkoek en ’n stuk jongby. Gooi dit in ’n houer en giet ’n bietjie lou water by. Druk dan die heuning en die jongby so droog moontlik uit in die water. As jy klaar uitgedruk het, gooi jy die doppe weg en syg die oplossing deur ’n fyn net of sif. Gooi dit terug in die houer en sit die moer van die vorige karrie by die oplossing. Die moer sit die besigheid aan die werk. Span ’n fyn net oor die houer en laat staan vir ’n paar dae totdat die gistingsproses gaan staan. Gooi die karrie nou deur ’n gaasdoek of sif en as jy wil, kan jy dit bottel. Dit word nog altyd sterker in die bottel. Die moer wat onder in die houer bly lê het, word nou mooi bymekaar gemaak, twee of drie keer uitgewas in kou water en droog uitgedruk. Bêre dit in ’n skoon linnesakkie en hang dit op om te droog. Ons het dikwels hierdie karriemoer gebruik in plaas van suurdeeg om brood of beskuit te bak. Dit bak die heerlikste beskuit denkbaar en ons wou nie beskuit eet as dit nie met karriemoer gebak was nie.
By my oupa was karrie maak en karrie drink ’n hele ritueel. Hy’t nooit sy karrie gebottel nie. Hy het ’n groot kalbas gehad waarin hy sy karrie gehou het. Die kalbas het ’n mooi groot ronde houtdeksel gehad en as die deksel opgesit is, het die karrie heerlik koud gebly. Langs my oupa se huis was ’n geboutjie wat hulle ’n hartbeeshuis genoem het. Dit was omtrent 12 m lank en 6 of 7 m breed, met ’n rietdak. Dit het ook net uit een vertrek bestaan. Daar het hy sy karrie opgehang. Daar was ook ’n kas met glase. As Oupa ons nooi om ’n glasie karrie te drink, het ons altyd hartbeeshuis toe verskuif. Dan het Oupa vir elkeen soveel geskink as wat hy gerade geag het en ons het sy gesondheid gedrink. Die hartbeeshuis het nie meubels gehad nie. Al wat daarin was, was die kas vir die glase en tien paraffienkissies wat opgestop was en met kant oorgetrek was. Dit was ons stoele. As ons in die hartbeeshuis kom, het ons gewoonlik die kissies in ’n kring gerangskik en almal het plaasgeneem. En dan begin jy proe. Sodra die eerste mondvol geproe is, word die kromstele uitgehaal en gestop en as hulle lekker brand, begin die geselsery. Boerderyprobleme word opgelos, siektegevalle word bespreek, landsake word aangeraak en so af en toe kom ’n lekker skinderstorie uit. Dit was altyd gesellig en Oupa het nooit ’n tweede keer geskink nie, want die goed het ’n lelike skop gehad.
Op Twee Riviere was drie baie onhebbelike tienderjarige broers met ’n doofstom seun as agterryer. Hulle was baie lief vir karrie, maar hulle het nie heuning gehad nie. As die lus vir karrie hulle oorweldig, het hulle knapsakke omgehang, ’n bondel osrieme gevat en afgesit Kouga se veld toe. Dan gaan haal hulle veldneste en rotsneste uit totdat hulle knapsakke vol is. Dofie was ’n soort van akrobaat en hy was vir geen by bang nie en ook nie vir ’n afgrond nie. Hy was hulle heuninguithaler. Een so ’n dag is hulle in oom Andries Lottie se veld in en die oom gewaar die vier daar. Hy gaan haal sy verkyker om te sien wat hulle beoog en hy sien hoe hulle vir Dofie met osrieme teen ’n steil krans laat afsak. En toe kry hy sommer die kloutjie by die oor. Hy besluit om ’n bietjie pret te maak en hy gaan haal sy Mauser. Toe Dofie mooi aan die gang is met die bye, begin die oom weerskante van hom teen die kranse skiet. Die drie bo-op die krans skrik so groot dat hulle die osrieme wat aanmekaar gelas is, se punt net daar om ’n waboomstam vasbind en voet in die wind slaan. Hulle laat Dofie net so hang. Oom Andries het net ’n paar skote geskiet en toe opgehou, want hy was bang ’n koeël kon dalk versplinter en die arme drommel tref. Laat die namiddag, teen sononder, het die drie broers druipstert teruggesluip en Dofie met sy sak heuning opgetrek. Hulle sê daar het dié dag twee keer ’n geluid uit Dofie se keel gekom wat darem baie na ’n vloekwoord geklink het.