Twee Riviere het ’n lewendige en bloeiende verenigingslewe gehad. Wat ek van Twee Riviere vertel, het grotendeels ook vir die ander gemeenskappe gegeld. Ek vertel maar net van die een gemeenskap omdat ek daar gebore is en grootgeword het.
Daar was ’n debatsvereniging waaraan meer as die helfte van die gemeenskap behoort het. Oud en jonk het maandeliks in die skool bymekaar gekom. Die debatte met inleiers en teenstanders was nog so ’n bietjie bo ons jong kinders se vuurmaakplek, maar die joernale, korsies en onvoorbereide toesprake het ons gaande gehad. Laat hulle maar net begin met “kontribusie nr. 1” dan sit ons almal met gespitste ore, want omdat ons almal goed geken het, het ons altyd geweet op wie ’n kontribusie betrekking gehad het. Later het die debatte ook vir ons begin betekenis kry. Daar was ’n klompie uitstaande redenaars, soos oom Big John, Dik Okkie, oom Thys Jan Jan, Pieter Elletjie en oom Klein Johan. Met kwinkslae het die een die ander getroef en wanneer die inleiers en teenstanders klaar hulle sMet kwinkslae het die een die ander getroef en wanneer die inleiers en teenstanders klaar hulle sê gesê het, is die debatte oopgesit en baie lewendig bespreek. Feitlik elkeen het ’n stuiwer gehad om in die armbeurs te gooi. En wanneer tot stemming oorgegaan is en dit gebeur dat daar ’n staking van stemme is, het almal geweet dat die debat goed deurgetrap is. Aan gevatheid met die bek het dit ook nooit ontbreek nie. Die onvoorbereide toesprake het gewoonlik gesorg vir groot vermaak. So het iemand een aand ’n blanko papiertjie gekry. Hy het die papiertjie eers aan die een kant bekyk, toe aan die ander kant. Hy sê: “Op my papiertjie staan niks. Wat is niks? Niks beteken niks en jy kan niks daaroor sê nie, want niks beteken net soveel soos melk ’n bul.” Op ’n ander ou se papiertjie het die woordjie “vry” gestaan. Hy’t gesê: “Dis seker baie lekker om vry te wees, maar dis sekerlik baie lekkerder om te vry.” Die debatsverenigings het gewoonlik so ’n uur en ’n half na twee uur aangehou.
Daar was oral Strewersverenigings waarvan ek nie veel weet nie aangesien ek nog te jonk was om lid te wees. Wat ek wel weet, is dat dit ’n godsdienstige vereniging was wat hulle lede aangespoor het om te lewe soos in die Bybel voorgeskryf word. Hoe dikwels hulle bymekaar gekom het, en waar, weet ek nie. Die bruin gemeenskap het hulle eie strewersvereniging gehad wat ’n baie positiewe invloed op sy lede gehad het. Dit was glad nie snaaks om die een die ander in die openbaar te hoor betig as daardie een verkeerd gedoen het nie. Dikwels kon jy hoor: “A na a, is jy dan nie ’n strewer nie?”
Die boerevereniging het sterk gestaan. Mnr. Tiempie Lamprecht , ons landbou-onderwyser aan die plaaslike hoërskool in Joubertina, was die siel van hierdie vereniging. Hy het georganiseer, vergaderings belê en elke vergadering bygewoon. Dikwels het hy die boere self toegespreek oor verskillende boerderyaangeleenthede en -probleme. Sodoende het hy ’n onskatbare bydrae gelewer tot verbeterde boerderypraktyke, veral op die gebied van bemesting waar hy ’n baie groot taak verrig het. Hy het die manne nie net gewys op die uitwerking en nut van verskeie bemestingstowwe nie, maar ook op die gevare wat sekere stowwe ingehou het. Een aand het hy die boere toegespreek oor die proses van osmose, die proses waardeur ’n plant sy water en voedingstowwe uit die grond kry. Ek en Frans Gerber was in st. 8 (gr. 10) en het nooit ’n geleentheid laat verygaan as mnr. Lamprecht aan die woord was nie. Die betrokke aand was ons ook daar en toe mnr. Lamprecht aan die einde tyd vir vrae gee, staan een van die boere op. Die boer was ’n taamlike groot uieplanter. Hy verduidelik dat hy uieplantjies se lowwe en wortels top voor hy plant, want dit vergemaklik die plantproses. Hy wil egter net weet of hy dan nou nie die uieplantjies se “osmors” afsny as hy die wortels top nie. Toe Meneer die volgende oggend inkom vir die landbouperiode, het hy so skelm na my en Frans geloer en gesê: “Julle Twee Rivere-boertjies, ek is darem vanmôre baie bly julle pa’s is nie by my in die klas nie.”
Of u dit wil glo of nie, ons het ook ’n toneelvereniging gehad. Oom Sam Salie en sy vrou was hier die toonaangewers. Elke jaar het die volwassenes ’n toneelstuk op die planke gebring. Ek kan u verseker daardie toneelstukke was van hoogstaande gehalte. Stukke soos Hans die Skipper en Die Wildsboudjie is opgevoer en het groot byval gevind. Daar was sommer baie talent op Twee Riviere en in elke ander gemeenskap.
So af en toe het ons musiekaande gehad. In elke gemeenskap het die musikante dik rondgeloop. Op Twee Riviere was oom Klasie Pieter die baaskonsertinaspeler en al om die tweede persoon kon òf ghitaar òf bekfluitjie speel. Oom Pieter Elletjie het viool gespeel, ant Lenie Naas het orrel gespeel, oom Okkie Piet het hawaiise kitaar gespeel en oom Klasie se dogters, Hetta, Anna, Martha en Mara kon al vier die harp bespeel. Klavierspelers was volop, al die instrumente was daar en ’n musiekaand het vrolik verloop. Soms is sangaande gehou. Dan was dit uit en uit sang, met of sonder begeleiding. Sang het in die Langklower se bloed geloop en is verder aangewakker deur Oumeneer McLachlan, prinsipaal van die hoërskool en vader van die bekende Philip McLachlan. Daar was ’n paar pragtige mansstemme. Oom Klasie se dogters kon pragtig as ’n groep van vier saam sing. Ons was gelukkig om net sulke talentvolle onderwyseresse te hê wat op sanggebied vir ons baie beteken het. Die verenigingslewe in die kloof het ons werlik almal verryk.