Meneer Harold Strimling was ’n Jood en eienaar van een van die drie winkels op Twee Riviere. Ons praat graag van ’n boereverneuker, maar ek glo nie mnr. Strimling het een enkele boer willens en wetens verneuk nie. Almal het hom gerespekteer omdat hy, behalwe dat hy eerlik was, baie boere uit penaries gehelp het. Hy het nie ’n man weggewys as hy hom enigsins kon help nie. Ja, hy het baie boere deur die jare gedra. Ek sal hom altyd onthou as die Jood met die sigaret in die mond en die potlood agter die regteroor. Hy’t elke dag self agter die toonbank gestaan met oom Okker Grote se dogter, Lottie, as sy assistent.
Strimling het ’n seun van ons ouderdom gehad – Alfred. Hy was die grootste sissie wat ek ooit geken het. Hy was ’n lang seun met lang arms en ’n paar abnormale groot hande. Al die skoolseuns het hom gekarnuffel en later begin uitbuit en afpers. Hulle kon hom maar net slae belowe en dan vir hom sê hoeveel lekkers en watter soort hulle wou hê en klokslag het die Joodjie dit gebring. Die arme vent is so getreiter dat hy uit die skool begin bly het, soms dae aaneen. Dit was ons skoolseuns se plig om Woensdagmiddae tydens handwerkperiode die plaaslike kerkhof skoon te hou. Een Woensdagmiddag roep die skoolhoof, mnr. Longland, ons in sy klaskamer bymekaar. Hy laat ons mooi verstaan dat hy daarvan bewus is hoe ons met die Joodjie aangaan. Hy sê ook dat mnr. Strimling by hom kom kla het dat Alfred se senuwees gedaan is en dat mnr. Longland ons moet vra om darem ’n bietjie mensliker teenoor sy seun op te tree. Mnr. Longland maak dit baie duidelik dat hy nie langer ons optrede teenoor Alfred gaan duld nie. Toe hy klaar gepraat het, voel ons soos ’n klomp boewe. Daarna is ons met ons grawe kerkhof toe, maar daardie middag is daar nie een graafsteek in die kerkhof gegee nie. Ons het tussen die graftes gaan sit en die ding uitgepraat en besluit om Alfred in die vervolg soos een van ons te behandel. En nie net vir hom nie, sommer ook vir Eva, daardie lelike sproetgesigsustertjie van hom. Kyk, sy was waarlik onaansienlik. Haar gesig het soos ’n kwarteleier gelyk van al die sproete en daarby nog so ’n lelike boskasie vir hare. Nee, sy was nie ’n prentjie nie!
Kokkernal was die voorbakleier in die skool en het naby Alfred in die Witkamp gebly. Hy stel dit baie duidelik daar in die kerkhof dat enigiemand wat die Joodjie weer gaan treiter, met hom te doen gaan kry. Van toe af het hy gereeld na skool vir Alfred gaan kuier. Een namiddag het hy vir die Joodjie gevra hoekom hy so bang is om te baklei. Alfred sê toe hy kan nie baklei nie.
Kokkernal vra vir hom: “ En wie’t vir jou gesê jy kan nie baklei nie? Jy’s langer as die ander seuns, jy’t langer arms en jy’t ’n paar lekker groot appels voor aan jou arms. Maak ’n slag net vuis en kyk self.”
Terselfdertyd begin hy die Joodjie touwys maak in die kuns van appels swaai. En Alfred word ’n gewillige en gretige leerling. Van toe af het hy nie weer uit die skool gebly nie en sy klasprestasies het sommer die hoogte ingeskiet.
Daar was ’n groot boelie in ons skool. Ek gaan nie sy naam noem nie. Nie een van ons ander seuns het tyd vir hom gehad nie. Eendag is Kokkernal siek en dis toe dat die boelie sy kans waarneem om vir Alfred te verpes. Ons almal, die boelie inkluis, kry die grootste verrassing van ons lewe. Die Joodjie gaan staan ewe reg agter sy appels – sonder die vreesbevange kyk wat al deel van hom was – en hy nooi die boelie om te kom as hy nie bang is nie. Hy is uitdagend en selfversekerd. Dit was darem een te veel vir die boelie. Ons ander het reeds ’n kring om hulle gevorm en ons moedig die Joodjie aan. Toe die boelie sien hoe die wind waai, storm hy onder Alfred in, maar dié is nie meer waar hy was nie. Toe die boelie omdraai, slaan die Joodjie hom met die regtervuis op die neus dat die bloed spat en daar sit die boelie met sy dinges op die grond. Ons is verras en geniet dit gate uit en moedig Alfred aan en klap hande vir hom. Toe die boelie opstaan, het hy in elke hand ’n yslike klip, maar soos een man sak ons op hom toe en vat die klippe af.
Ou Jer sê vir hom: “Nee, Papa, vandag gaan jy ferplie baklei,” en ons los hom weer. Hy loop Alfred weer storm en Alfred slaan hom met dieselfde reguitregter, die slag bokant die neus, senter tussen die oë en weer beland hy op sy sitvlak. Wat toe gevolg het, staan my helder voor die gees. Alfred gee daardie boelie die dag die pak slae van sy lewe en hy slaan al die toekomstige baklei ook uit sy lyf. Van daardie dag af het ons Alfred “Moses” en die boelie “Egiptenaar” genoem. Die volgende dag roep mnr. Longland ons seuns weer almal bymekaar en sê mnr. Strimling wil ons na skool almal by sy winkel sien. Ons voel ongemaklik en gaan na skool stert tussen die bene winkel toe, nie wetende wat om te verwag nie. Mnr. Strimling verwelkom ons by sy winkel en gee vir elkeen van ons ’n sakkie gemengde lekkers, nie die gewone ou kardoesie vol nie. Van daardie dag af het ons van Alfred meer lekkers gekry as ooit tevore, want sien, sy pa het vir hom gegee om vir ons te gee; hy’t nie meer nodig gehad om te steel nie.
Jare later het mnr. Strimling Baai toe getrek. Toe ek student was, kom ek eenkeer deur die Baai en moet daar twaalf ure oorlê om ’n konneksie met die appeltreintjie te kry. Ek loop sommer doelloos in die Baai se hoofstraat rond en stap by ’n bakkery verby waaruit die heerlikste geure kom. Ek loer in en wie sien ek agter die toonbank? Niemand anders as Alfred saam met sy pa nie! Ek gaan binne en toe hulle my herken, word ek verwelkom soos die verlore seun. Hulle het my letterlik van die grond af opgetel Mnr. Strimling sê vir Alfred om my huis toe te neem. Die huis sit net agter die bakkery. Sy pa sê hy kom nou-nou, hy wil net die bakkery sluit. Ek en Alfred stap huis toe en hy neem my binnetoe. Hier kom ’n meisie uit ’n vertrek en ek stik eintlik toe ek die pragtige mens sien. Sy kom nader, gryp my aan die skouers en gee my ’n klapsoen. Ek is so verbaas en verbouereerd dat ek nie my voete kan roer nie.
“Hoe lyk dit vir my of jy my nie meer kan onthou nie?” vra sy. “Ek is Eva.”
Ek wou vir haar sê ek glo dit nie, maar besluit om liewer my bek te hou. Hulle pa kom gelukkig op daardie stadium in en spaar my ’n groot verleentheid. Ons gesels aanmekaar en die Jood vra uit na al die bekendes. Ek lig hom in omtrent die sterftes, troues en alles waaraan ek kan dink. Alfred wil net weet hoe dit met Kokkernal gaan. Die tyd vlieg verby en toe ek aanstaltes maak om te loop, vra mnr. Strimling my wanneer die trein vertrek. Toe hy hoor dat die trein eers halftien die aand vertrek, kan dit net nie hoër of laer nie, ek moet sesuur die aand weer kom en by hulle kom eet. Ek is langtand vir die besigheid, maar Eva gee die deurslag. Toe sy dan nou ook so mooi vra dat ek moet kom, toe begin ek lam word in my knieë en ek stem in.
Ek het die namiddag maar my beste kleertjies wat ek gehad het, aangetrek en afgesit na die Strimlings. Eva is uitgevat vir die aand en ek herken haar byna weer nie. Sy’s beeldskoon. Pragtige grysgroen oë en ’n bos pikswart krulhare. Van die sproete van haar kinderdae is geen spoor te sien nie. Ek kan my oë nie van haar afhou nie. Toe ons almal sit, sien haar pa dat ek Eva so dophou en hy sê:
“Ja man, het sy nie ’n mooi dogter geword nie? Sy pas my nou op. Sedert my vrou se dood is sy my oogappel.”
Alfred wil weer net weet hoe dit met Kokkernal en die Egiptenaar gaan en daar moet ek die hele bakleiery die aand vir sy pa oorvertel. Ek dik natuurlik maar ’n bietjie aan ook en ek kan sien dat hy tot in sy tone lekkerkry.
Toe ek klaar vertel het, sê hy: “Ja man, ek is julle boertjies baie dank verskuldig dat julle van Alf ’n man help maak het. Hy’s nie meer die sissie wat hy was nie. Hy kan vandag oral rekenskap van himself gee. Trouens, hy is een van die beste jong boksers in die Baai en sewe uit tien van sy gevegte wen hy met uitklophoue.”
Eva staan naderhand op en gaan dra die kos op die tafel. Ek begin benoud voel onder my boordjie, want ek weet die Joodse gewoontes verskil baie van ons eie. Nadat ons aangesit het, vra mnr. Strimling op hulle manier die seën oor die tafel. Ek verstaan geen sners daarvan nie.
Toe hy klaar het, sê hy: “Man, ek wil hê jy moet volkome op jou gemak wees. Ek weet ons gewoontes verskil baie. Maak soos julle in julle huis maak. Ek is seker dit sal ons almal geval. Ek wil hê jy moet die ete geniet, want wat vanaand hier op die tafel is, is alles eiehandig deur Eva voorberei.”
Toe voel ek darem baie meer tuis en ek kan met ’n rein gewete sê ek het daardie Joodse kos geniet. Eva is ’n wonderlike gasvrou en toe ek dit na ete aan haar noem, bloos sy van oor tot oor. Toe is sy weragtag mooi!
Na ete gaan sit ons in die sitkamer waar Eva vir ons koffie bring. Mnr. Strimling begin toe uitvra na myself – waar ek studeer en wat ek loop. Hy wil alles weet, selfs hoe my studies gefinansier word. Toe ek sê ek moet loop om die trein betyds te haal, sê hy ek moet nog so ’n kwartier gesels, Eva en Alfred kan my met sy kar stasie toe neem. Hyself vra ’n rukkie verskoning en hy is daar uit. Toe hy terugkom, het hy ’n yslike doos by hom, netjies toegedraai, en hy gee dit vir my met die woorde:
“Gee dit vir jou pa en ma en sê Harold Strimling stuur dit.” En in sy ander hand het hy sy visitekaartjie en ’n toegeplakte koevert. Hy sê vir my as ek ooit geldelike hulp vir my studies nodig het, kan ek hom net laat weet, hy sal my help tot die einde toe. Daarop gee hy my sy kaartjie met sy naam en adres. Alfred het intussen die kar gaan haal.
Sy pa gee my nog ’n toegeplakte koevert met die woorde: “Hierdie maak jy eers by jou huis oop, dit moet jy my belowe.”
Ek belowe, probeer hom op ’n manier vir alles bedank, groet hom en ek en Eva stap uit.
Buitekant staan ’n pikswart Oldsmobile, die mooiste kar wat ek nog ooit in my lewe gesien het. Ek kan nie help om vir Alfred te vra waar sy pa aan die kar kom nie.
Hy sê: “Jong, Twee Riviere het my pa goed behandel, maar hier in die Baai het hy ryk geword.” En hy beveel my en Eva om agter in te klim. Net gou laai hulle my op die stasie af. Toe ek Eva groet, gryp sy my om die nek en gee my ’n klapsoen met ’n paslike drukkie daarby. Sy stop ’n pakkie in my hand en sê dis om aan te peusel in die trein. Ek groet Alfred ook en hulle ry weg – uit my lewe uit. Ek het nie een van hulle ooit weer gesien nie. Toe ek die volgende dag tuis kom en die koevert wat mnr. Strimling my gegee het, oopmaak, is daar £25 (R50) in met ’n notatjie – jou sakgeld vir volgende kwartaal.
Sou jy hulle ooit kon vergeet?