Voor die vloed was daar al so hier en daar ’n vrugteboordjie aangelê, maar dis eintlik na die vloed dat die boere met mening ingeklim het in die vrugtebedryf. Ek wil herhaal dat mnr. Alexander Baldie, ’n sakeman uit die Baai, ’n leidende rol gespeel het. Hy het ’n klomp vrugtebome van Pickstone uit die Boland laat kom. Self geplant en ook boompies en steggies aan bure gegee om aan te plant. Dit was ook nie net appels en pere wat aangeplant is nie, maar ook baie soorte perskes, pruime en appelkose. Die perske- en pruimvariëteite is so gekies dat hulle mooi op mekaar gevolg het wat rypwording betref. Die heel vroegste perske destyds was best of All wat maar altyd na die binnelandse markte gegaan het. Dit is gevolg deur Early Dawn wat in groot hoeveelhede uitgevoer is. Dan het Mayflower, Mamie Ross en Peregrine gevolg. Pruime soos Eclipse, Santa Rosa en Kelsey is geplant. Appelkose was merendeels Royals hoewel daar ook ’n Bulida-boord gestaan het. Baie soorte appels en pere is geplant. Destyds was die vernaamste appelsoorte wat uitgevoer is White Winter Pearmain, Ohenimuri, Dunn’s Seedling of Cox’s Orange Pippin. Later is ook Red en Golden Delicious, Starking, Granny Smith en Rome Beauty aangeplant. Die vernaamste pere was Bon Chretien, Packham’s Truimph, Beurre Bosch, Clapp’s Favourite en Winter Nelis. Heelwat van hierdie sagtevrugtesoorte word vandag glad nie meer gesien nie, want hulle is deur nuwe soorte wat ontwikkel is, vervang.
Die vrugtebedryf het ’n groot ommekeer in Langkloof se leefwyse en ekonomie gebring. Mense het begin trekkers en vragmotors koop en die moderne kragspuite het die kodlingmot op sy herrie gegee. Voorheen moes ons met handspuite klaarkom. Dit was baie harde werk, want behalwe dat jy die water met die spuitgoed van boom tot boom moes dra, moes jy ook self die pompwerk doen. Dis dan ook nie snaaks dat 75% van die oes party jare met kodlingmot besmet was nie. Sommige van die spuitstowwe was ook nie ’n plesier om mee te werk nie. Die ou arsenaat van lood het naderhand nie meer ’n uitwerking op die vrugtemot gehad nie. Vir ’n paar jaar het nikotienstof die arsenaat van lood vervang. Dit het wel die kodlingmotlarwe vrek gemaak, maar party van ons het ook kort duskant die dood omgedraai. Die nie-rokers het veral baie swaar gekry. Dit was ’n gekots vandat ons begin spuit het totdat ons klaar was. Toe het DDT gekom.
In die store self was alles ook maar baie primitief. Die gradeerder was eenvoudig ’n plank van ongeveer 4 m lank en 150 mm breed. Die plank het gate van klein na groot gehad, omtrent 300 mm uitmekaar. Die appels wat gegradeer moes word, is in die gate gepas, tot waar die appel deurval. Een oggend het ’n vreemde jong kom werk vra. Hy sê hy weet hoe om appels te gradeer. My pa sê hy moet solank gaan begin, hyself sou binne vyf minute daar wees. Toe my pa daar kom, het die jong al die appels deur die grootste gat gegooi!
My pa vra vir hom: “Man, hoe gradeer jy appels?”
Toe sê hy: “Baas, hulle gaan almal hierdeur.”
Gelukkig het oom Koos Bos begin gradeerders bou waarop hy werklik trots kon wees. Die gradeerder het ’n uitsoektafel gehad waar al die ongewenste appels uitgehaal is. Die ander appels is met twee spirale wat van hout gemaak was, vorentoe vervoer. Die spirale het van nou na wyd geloop en elke appel het op sy plek deurgeval. Die spirale was met vilt oorgetrek sodat die appels nie kon kneus nie. Die gradeerder het ’n petrolenjintjie gehad wat hom getrek het. Heelwat van oom Koos se gradeerders werk vandag nog elders in boerderystreke en hulle is nog net so doeltreffend soos in sy dae. Duur, nuwerwetse gradeerders het sy gradeerders sedertdien vervang, baie van die ou soorte is deur ’n horde nuwe soorte vervang. Die hele vrugtebedryf het ’n verandering ondergaan. Die plantwydtes, snoeimetodes, besproeiing en bemesting het verander en alles is totaal gemoderniseer. As die boere voortgegaan het soos in daardie dae, sou almal deesdae beslis hulle alie gesien het.
Dit wil voorkom of al die appelstreke in die land maar taamlik onderhewig aan haelskade is. So is Langkloof dan ook geen uitsondering nie. Daar gaan maar bloedweinig jare verby dat dele van die kloof nie deurloop nie. Al hou ’n haelbui net vyf minute aan, saai dit ongelooflike verwoesting. Een so ’n namiddag staan my nog helder voor die gees. Dit was 5 Februarie 1937. Ant Salie is die oggend oorlede. Die plukkissies was al in die boorde ingery. Die Maandag sou ons begin Ohenimuris pluk. Daardie namiddag steek die weer op en die wind waai – altyd ’n gevaar by hael. Daar kom ’n haelbui wat vier minute duur en slaan al wat appel en peer was, weg. Die plukkissies was fynhout geslaan en die bome se bas afgestroop. Honderde bome het na hierdie haelbui gevrek. Die wat bly lewe het, het sommer begin bot en einde Augustus het daar yslike appels aan die bome gesit – galbitter. Mnr. Longland, die prinsipaal op Twee Riviere, het daardie dag ’n paar haelkorrels gemeet – 125 mm in omtrek! Die aand moes ons ou Rooidoek, ’n veteraan uit die Eerste Wêreldoorlg, wat aan bomskok gely het, met die waentjie en perde agter die beeste loop haal. Sy voete het so onder die hael deurgeloop dat hy nie kon loop nie.