Inligting (vir inwoners)

Liewe Bure,

Ons kan tans met ekstra waardering na mekaar kyk, en daarby met ‘n tikkie verwondering sê:

Buurman en buurvrou, boorlinge (ver en naby), in-komers en vriende van Twee Riviere, ons gemeenskappie is binnekort 250 jaar oud!”

Kortliks dan, die feite: Die plaas Twee Rivieren, beskryf as “in de lange Cloof aan d’andere zyde van de Wagenbooms Rivier”, is deur die VOC as ‘n leningsplaas toegestaan aan ene Jacobus Scheepers en is op 14 Februarie 1765 (sommige bronne voer aan die 13de) op Scheepers se naam geregistreer. (p141 ; Die Storie van Langkloof ; 2008 ; Anista van Huyssteen)

Daarna, het heelwat bedrewe pionierswerk op Twee Riviere afgespeel, wat oor die gang van die daaropvolgende eeu gelei het tot die totstandkoming van ‘n destyds volledig-selfstandige landelike gemeenskap. Dit verfris ons almal se uitsig om daaraan herinner te word dat selfs ‘n historiese VOC drostdy soos Swellendam maar ‘n geringe 20 jaar voor Twee Riviere tot stand gekom het. ‘n Dorp soos George sou eers in die vroee 1800’s verrys, en soortgelyk sou dit bykans 142 jaar duur vir nabygeleë Joubertina om op Twee Riviere se horison te verskyn. Dit dan, ter perspektief…

Dit voel dus heeltemal gepas om hierdie merkwaardige datum te huldig as ‘n waardige, intieme en bykans “huislike” aangeleentheid. Vir Twee Riviere, deur Twee Riviere dus. Inwoners van die ewe historiese Heights, Kouga, ensovoorts word eweneens hartlik aangemoedig om aan te sluit.

Watter vorm sal die Toewydingsweek neem?

Wat nie beoog word nie, is ‘n sogenaamde “feesprogram”. Laasgenoemde kan maklik hol of oneg voel gegewe die karakter en beskeie omvang van ons gemeenskap. (Geen poging dus om buite-besoekers te lok nie, maar boorlinge en oud-inwoners beslis!). Daar sal immers niks wees om te koop of te verbruik nie, want handel dryf is tog nie die oogmerk nie. Eerder maar ‘n opregte, gemoedelike toewydingsweek, waartydens inwoners van Twee Riviere mekaar mag herinner aan diepe spore getrap, en aan ‘n lang en volgehoue bestaan – een wat in die geval van die boorling-families immers terugstrek oor twee eeue, en selfs meer.

Geskrewe uitnodigings word tans landswyd gepos aan elke opspoorbare boorling en persone met Twee Riviere herkoms, asook aan destydse inwoners (kortstondig of lank) wie hul tans elders bevind. Hier is die versoek: Het u kontak met enige afstammelinge en lede van Twee Riviere se vestigings-families, of met persone (nou elders) wie in die verlede grondbesit uitgeoefen het in Twee Riviere? Kan u diesulkes nog bereik, en asseblief uitnooi na die Toewydingsweek? Lewer dan ook hul kontakbesonderhede in by The Belfry Kitchen, sodat ‘n uitnodigingsbrief met besonderhede aan hulle gestuur mag word. As u die bestaande, groeiende lys van name wil besigtig, raadpleeg dit gerus by The Belfry Kitchen. Veral vir die boorling-families lê daar hierin dus ‘n rare geleentheid om verre familiebande te verfris en op Twee Riviere te versamel vir ‘n innige week van reünie, van huis tot huis.

Die versoek is dan juis ook dat elkeen van ons ons huise en geriewe met gasvryheid sal oopstel aan soveel Twee Riviere familie en oud-inwoners as waaraan ons billikerwys slaapplek kan bied tydens die eerste week van Februarie! Laat huislike gerief maar die agterspit delf vir ‘n paar naggies, terwyl ons in mildelikheid mekaar die hand uitreik, op straat en aan’t huis. Enkele verwante sal dalk per karavaan wil kom kuier. Hoe ook al, mag Twee Riviere niemand wegwys nie, maar met waardering aan almal ‘n gasvrye holte bied hier op die “Plaas” en familiegronde.

Die sentrale herdenkingsgedagte is dus een van samesyn en toewyding. Samesyn – en daarmee saam die ontwakende besef dat ons bloot maar onsself (en mekaar) verkul as ‘n versluierde droom van ‘n “beter plek elders” tussen ons ‘n vashouplek gegun word.

Kom ‘n “elders” ons dan hoegenaamd toe? Hierin lê die toets: Reken ons as inwoners dat Twee Riviere goed genoeg is vir ons kinders? Byna twee eeue lank het Twee Riviere se inwoners immers wel so gedink – en dit sodanig uitgeleef. Die gemeenskap, daarmee saam, het gefloreer. Kan dit weer so werk? ‘n Mens vorm die indruk dat die tye immers reeds begin terugswaai het, en dat die verlede homself toenemend wil herhaal – waar die wil nog bestaan. Indien wel, is dit goeie nuus, en beleef Twee Riviere binnekort nog ‘n herlewing en uitbouing van daardie eertydse, lewenskragtige en hegte gemeenskap – wat homself immers oor die gang van twee eeue gehandhaaf het!

Langs hierdie trant, laat ons aangespoor voel om doelbewus welbehae te neem in ons bure, ons tuistes en in ons lewens. Gedeelde lewens, immers – en wat reeds in volle vaart onderweg is, en binnekort selfs…..verby!

‘n Week van Toewyding, dus. (“A week of Dedication”, for our English readers.)

Twee Riviere se Toewydingsweek sal stadig begin, en strek van Sondag tot Saterdag, 1 – 8 Februarie, 2015:

  1. Die eerste paar aande sal gewy word aan gemoedelike straatsang en serenades, straatlangs voor huise in Twee Riviere. Jonk en oud wie wil help musiek maak, saamstap of sing, word hartlik aangemoedig om deel te neem, hetsy formeel of spontaan. Oud-inwoners en familie sal na verwagting stuksgewys arriveer, soos wat daardie week vorder.

    2) Vrydagaand, 6 Februarie breek die Toewydingsbyeenkoms in Twee Riviere Kerksaal aan, waartydens besoekende familie en oud-inwoners verwelkom word, en ons ook na sang en vertellings sal luister – of dit bydra. Laat ons mekaar daar met waardering op die hande dra en daardeur aan mekaar trou en toewyding betoon hier in ons gemeenskaplike huis, Twee Riviere.

    3) Saterdagaand, 7 Februarie word ‘n Langtafel Gemeenskaps-ete in Twee Riviere se Hoofstraat voorberei vir tot en met 200 gaste. Vanaf etenstafel, verskuif die inwoners en besoekers na die Instituut se kampustuine, waar die afskeidsgeleentheid sal afspeel. (Dis naby volmaan, dis hoogsomer, en mens hoop maar vir ‘n helder, windstil aand, nê?).

    4) Sondagoggend: Besoekers en gaste begin huiswaarts keer. Byna onvermydelik, sou sommige mekaar inderdaad ook vir die laaste maal gesien het. Kom ons eer hierdie gulde wedersiens dus in ‘n gees van opregte liefde.

Ten slotte: Ons hartlike waardering word hiermee uitgespreek teenoor al die medewerkers wie se bystand, gereedskap, onderskraging en aanmoediging dit moontlik gemaak het om Twee Riviere se ingangspad vanaf die R62 voor te berei met ‘n statige boomlaning! Die hulp en bemoedinging van verskeie lede van Olivier en Schreiber en Ferreira gesinne – asook die gunstige bystand van die maatskappye langs hierdie aanrit – het die weg gebaan vir ‘n uitdrukking van gemeensaamheid wat mettertyd vir almal in Twee Riviere tot blywende eer sal strek!

Met hartlike groete,

Adriaan Botha

Twee Riviere

Enigeen met vrae ten opsigte van die Toewydingsweek, of met aanbiedings van hulp, is welkom om Retha Grundlingh te skakel tydens kantoor-ure by Tel 042 2731567, of te gesels met Reuben Botha by The Belfry Kitchen, Tel 042 2731089. Rig emails gerus na 250@tweeriviere.net, of bly binnekort op hoogte via www.tweeriviere.net

Behoeftes: Dit is voorsienbaar dat addisionele tafels, stoele endiesmeer geleen sal moet word vir die Langtafel Gemeenskaps-ete. Alles is gratis en die Belfry Kitchen sal die leeue-aandeel bydra, maar as enigeen kan hulp aanbied met kosvoorsiening (sy-disse soos aartappelslaai, endiesmeer) sal dit natuurlik met blydskap aanvaar word!