27. Die Kerk

Langklowers was kerkmense en lief vir hulle kerk en vir hulle predikant. Die predikant is op die hande gedra en bewaar die een wat iets teen ’n predikant te sê gehad het. Dit was net so goed hy vra om gestenig te word.

Sondagoggende is daar vroeg gewoel, want die karperde moes gebad word. Geen perd is ingespan kerk toe as hy nie ’n behoorlike bad gehad het nie. Waar die wapad deur Klipdrif gaan, is ’n “sekelgat” en dis waar die meeste perde Sondagoggende gebad is. Dit was die groot seuns se taak. Oom Naas het net twee dogters gehad, dus moes hy ’n staljong genaamd Ouman, aanhou. Wat gebeur het, kon niemand sê nie, maar een oggend het Ouman daar verdrink en natuurlik het dit van toe af daar “gespook.” Ouman was so ’n beteuterde ou jongetjie en toe hy gelewe het, was niemand vir hom bang nie. Nou was dit ’n ander saak. Hy kon iets doen wat hy in sy lewe nie kon doen nie – spook! Ja, ek moet sê baie van die Langklowers was bra bygelowig.

Die mans sal seker nie daarvan hou dat ek dit sê nie, maar daar was groot kompetisie tussen hulle met hul karperde. Oom Dries, veral, het altyd gesorg dat hy van die beste karperde het. Hy’t hulle self geteel in die Kouga by sy swaer, Andries Lottie. Dit was ’n gesig om Sondagoggende die tou kapkarre op pad kerk toe te sien. Die perde draf met sierlike sekelnekke voor die kapkar en dit lyk alteveel of hulle dit geniet en weet dat hulle ’n mooi prentjie vorm. Dit was inderdaad ’n gesig wat geen boerseun lig sal vergeet nie. Die kapkarre was pragtig en as jy vandag by ’n mooi gerestoureerde kapkar uitkom, trek jou hart sommer ’n punt na tye wat was. Gelukkig tog dat ’n mens nog oral in die land van die gerestoureerde kapkarre te sien kan kry.

Joubertina het baie groot kerkgronde. By die kerksaal is daar ’n paar rye bome en om die buitenste ry se stamme is ’n dik swaar ketting gespan. Dis daar waar die kerkgangers met hulle kapkarre gaan stilhou. Daar word nie uitgespan nie. Die kapkar se disselboom word net aan die dik ketting vasgemaak en daar staan die perde geduldig en wag dat die kerk moet uitkom. As die kerk uitkom, sien jy net hoedat die mans hulle vrouens letterlik kar toe sleep, want elkeen wil graag eerste wegtrek. Die rit kerk toe was hondmak in vergelyking met die terugtog. Nou moet die perde uithaal en wys wat in hulle steek, want elke man beskou dit so half en half ’n skande as ’n ander man hom van agter af verbysteek. Okkie moes altyd met oom Dries se perde gaan help, want oom Okker Hannie het saam met oom Dries kerk toe gery. As dit tyd vir inspan was, was Okkie daar. Oom Dries se seun, Klasie, het kwaai gehakkel. Die oom het juis twee jong karperde klaar geleer en een Sondagoggend kom Okkie oudergewoonte help inspan. Die een perd was baie skrikkerig en jy moes nie die stringe aan sy dye laat raak terwyl jy hulle vasmaak nie. Okkie is hoeka aan dié perd se kant doenig en Klasie wil vir Okkie waarsku dat hy die stringe moet weghou van die perd se dye. Hy begin: “Okkie, jy moet p…p….p…. O, toemaar, daar skop hy jou klaar.”

26. Skoolfonds          28. Vrugte steel