Behalwe vir kurpertjies wat omtrent 75 mm lank word, het geen stroom of rivier in Onder-Langkloof in my kleintyd vis gehad nie. Al wat daar was, was palings en hulle was redelik volop. Die Langklower wat hengelaarsbloed in sy are gehad het, moes dus maar sy visvanglus by die palinggate gaan bevredig. Dis ’n lekker tydverdryf en as jy die regte maats en ’n knetterende vuurtjie het, kan dit baie gesellig by so ’n palinggat raak. Terwyl die son skyn, dra jy genoeg brandhout aan, want hoewel dit somer is, word dit snags deksels koud langs die water. Gewoonlik gaan daar darem ’n tjopppie of twee en ’n stukkie wors saam. Dié word sommer op ’n spit gebraai, want jy kan jou nie nog met ’n rooster ook opsaal nie.
Ek was een van die manne wat my skoensole deurgeloop het agter palings aan. In my kleintyd het Oupa dikwels vertel van die groot palings wat hulle gevang het, maar al wat ek in die hande kon kry, was goedjies so dik soos ’n geelwortel en niks langer as ’n halwe meter nie. Ek het al baie gewonder hoe lyk ’n werklike groot paling, want ek het nog nooit een gesien nie. Nou moet ek sê, ’n palingvanger ly nie heeltemal aan dieselfde waan as ’n hengelaar nie. Hoe verder die visterman loop en hoe dieper hy ingooi, hoe groter is sy vis. Dit werk nie so met palings nie, want ’n paling wei langs die wal. Palingvangery is ’n rustige besigheid. Jy laai maar jou hoeke met erdwurms of ’n padda of ’n plandoeka (platanna) en gooi in. Dan sit jy langs jou vuurtjie en hou die dobbers dop. Sodra die dobber wegraak, vlieg jy op, kap vas en trek uit. Wat is jou teleurstelling groot as jy ’n platanna of ’n waterskilpad aan die hoek het! Dit gebeur nogal dikwels.
Ek het gewoonlik net een maat saamgeneem – ou Jan Bokwa. Daar was twee redes: hy het die palinggate baie goed geken en hy was ontsettend bang. Vir my was daar geen groter plesier as om ou Jan bang te maak nie. Dit het nie veel gevra nie, want dit was nie eers nodig om iets te sê nie. Jy moes net maak of jy na iets luister of stip na een plek kyk, dan begin Jan nader na jou en die vuur skuif. Hy begin rondkyk en luister en net gou sien of hoor hy iets wat nie reg is nie. Dan is die gort gaar. So sit ons twee een aand by Schneigansch se gat, net daar waar die Swartjies glo ’n man se kop afgesny het en waar hy nou snags rondloop om sy kop te soek. Aan ons linkerkant skiet rotse wat welig begroei is, feitlik loodreg die lug in. Aan die kant waar ons sit, is net bosse. Ek moet sê, toe die maan opkom, toe lyk die wêreld bra spookagtig. Meteens begin ’n uil te skree en ou Jan se oë rek soos pierings. ’n Ander uil vlieg reg bo ons koppe verby. Ou Jan pak net hout op die vuur. Ek sê hy moet die vuur doodmaak, want ’n spook is lief vir vuur. Ou Jan antwoord: “Hier slaan ek vannag kierie, maar die vuur bly.” Teen die kranse gaan kort-kort ’n klip los en plons naby ons in die water. Ek sien sommer ou Jan het nou klaar palings gevang. Hy begin sy lyne uittrek en oprol en beduie ek moet dieselfde doen. Dis nie meer so vroeg nie, dus maak ek so. Ons het darem vier palings gevang. Jan hang sy knapsak om en begin aanstryk met die paadjie wat duidelik in die maanskyn sigbaar is. Ek lig net waar dit nodig is. ’n Hele ent voor ons loop ’n skerp rif reg oor die paadjie en ek besluit om ou Jan daar bang te maak. Toe ons daar naby kom, tel ek skelmpies ’n groot klip op en gooi dit langs hom in die bosse. Ek twyfel of enige Olimpiese naelloper daardie aand vinniger van sy merke af kon wegspring as ou Jan. Maar foeitog, hy’t vergeet van die rif voor ons. Ek hoor net ’n slag en toe ’n reeks vloeke en kreune. Daar gekom, sien ek ou Jan lê anderkant die rif, sy een been so snaaks onder hom ingevou.
Ek sê: “O magtie, hier het ’n Bokwa omgeval.” Ou Jan sê net sy been is af. Ons het nog omtrent 4 km om te stap. Hoe op aarde gaan ek ou Jan by die huis kry? Gelukkig blyk dit na ’n ruk dat die ou hom net deur die blare geskrik het. Die been makeer niks. Ek vra hom wat van die vier palings geword het. Hy sê: “Palings se moer, man. Schneigansch kan dit maar vir hom vat en gaarmaak. Daardie gat sal my nooit weer sien nie.”
Ant Chrissie was iemand wat lief was vir paling, sommer baie lief. En kon sy dit lekker gaarmaak? So lekker dat niemand dit kon weerstaan nie. Sy het dit te lieflik bruin en bros gebak, sonder dat dit droog was. Een Saterdagmiddag sê sy vir haar twee groot seuns sy het lus vir paling en hulle moet vir haar ’n paling of twee gaan vang. Die twee skraap hulle hengelgerei bymekaar, gaan grawe ’n klompie erdwurms en sit af palinggate toe. Op pad daarheen draai hulle af om hulle twee maats om te praat om saam te gaan. Dié twee het ’n halfgelling jerepigo by hulle wat hulle van E. Noll se drankwinkel in Bo-Langkloof bestel het. Toe hulle hul aas in die water het, is dit bykans sononder en die vaatjie doen kort-kort die rondte. Die vier is naderhand heel plesierig. Per geluk of per ongeluk vang hulle ’n paling en gooi dit in die suikersak. So dan en wan doen die vaatjie nog getrou sy rondte. So teen tienuur se kant sê die ouer broer hulle moet lyne optrek en huis toe gaan, more is Sondag en hulle sal nie toegelaat word om uit die kerk te bly nie. Hulle pak op en agter mekaar stap hulle met die paadjie al langs die rivier op. Een dra die suikersak met die paling. ’n Ander dra die halfleë vaatjie. Dis ruig om die rivier, toegegroei van die palmiet. Op ’n kol sê die man met die vaatjie hulle moet die ding leeg drink sodat hy dit kan weggooi. Hulle gaan sit op ’n oop kol en steek ’n klompie droë palmiete aan die brand. Die vaatjie doen weer die rondte. Meteens skree die een seun: “O magtag, kyk waar gaan Ma se paling!” Hy spring op en vang die ding mooi agter die kop en skree: “Maak oop die sak se bek!” Die ander maak haastig die sak oop en hy gooi die gedierte weer in. Dié slag bind hulle veiligheidshalwe die sak se bek toe. Daarna maak hulle die vaatjie leeg, gooi dit weg en stap huis toe. By die huis hang hulle die sak aan die seringboom se tak. Hulle slaap in die buitekamer. Die volgende oggend bring ant Chrissie vir hulle koffie en beskuit en sy wil weet of hulle iets gevang het. Die oudste seun sê dat hulle net een gevang het en beduie sommer hoe groot die paling is. Sy broer sê: “Nee, hy’s groter as wat jy wys.” Hierop vra ouboet: “Waarom sal ons nou stry oor hoe groot die paling is? Maak die sak oop en wys vir Ma.” Die jongste staan op en gaan haal die sak onder die boom. Hy kom maak dit in die kamer oop en gee dit ’n behoorlike skud. Daar val die “paling” uit – ’n yslike lewendige pofadder!