Ons het in goeie stewige huise gebly. Die vertrekke was soms bietjie klein, maar daar was genoeg van hulle. Die meeste van ons huise was van klip gebou. Wat ek van geologie of gesteentes weet, is maar bietjie gevaarlik, maar ek sou sê die klippe was sandsteen. Ek onthou nog goed hoedat die bouers die klippe met hul hamers en beitels reggekap en gedresseer het voordat dit in die mure ingebou is. Elke klip is pas gemaak in die plek waar dit gelê moes word. Die dakke was daardie tyd al meestal sink, hoewel hier en daar nog rietdakke opgeskiet het. So ’n kliphuis vertoon vir my ’n pragtig. Jy sien elke klip net soos hy is, want daardie klipmure word mos nie afgepleister nie. Jy kan vandag nog oral in Langkloof van hierdie kliphuise sien en hulle staan nog stewig.
Die kombuis was gewoonlik lekker ruim. Baie aandag is gegee aan die kaggel. Dit moes groot wees, want daar is die ou Doverstoof ingebou en langsaan moes nog plek wees vir ’n groot vuurherd waar brandhout gepak kon word. Daar moes ook ’n rak ingebou word vir potte en panne en langs die stoof was daar ’n geelkopersilinder vir warm water. Die vuurherd se vloer was uitgelê met stroke yster, omtrent 10 mm dik en ongeveer 75 mm lank. En pasop as daar kookwater uitgeval het en jy gaan sit daar! Jy kon net so gou opspring as wat jy wil, maar jou broek sit klaar aan jou bas vas. Voor die stoof was ’n vierkant waarvan die vloer van miershope gemaak was, ingelê met perskepitte. Dit kon ook nie sommer enige miershoop wees nie. Dit is met sorg uitgesoek en met stampers vasgestamp. Vas teen die kombuis aan die buitekant was die bakoond, met ’n gat deur die kombuismuur vir die oond se deksel. Aan die agterkant van die oond was ’n luggat. In daardie oonde het ons ma’s die heerlikste brode gebak, nie hierdie ou smal goedjies wat ons vandag koop nie – dit was bulbrode. As jy meer as ’n heel sny van daardie brode wou eet, moes jy ekstra honger wees. Die kombuis se vloer was ook van miershope gemaak en is twee keer per week uitgesmeer met beesmis. Ons kinders moes die mis in ’n misemmer gaan optel. Soos met die miershope is die mis ook noukeurig uitgesoek. Die mis is met water aangemaak en dan met ’n lap oor die vloer gesmeer. Dit het gelukkig gou gedroog. Die moderne mens mag dalk sy neus vir hierdie outydse vloere optrek, maar dit was baie sindelik en het boonop ’n aangename reuk gehad. Aan die kombuis was ’n spens met rakke en hier is al die kos gebêre. Al die soorte konfyt en ’n klomp soorte ingemaakte vrugte was op die rakke. Die meel is egter in ’n meelkis gehou. Verskillende soorte gedroogde vrugte is in groot blikke gebêre. In elke blik is ’n paar vyeblare bo-op die droëvrugte gesit, glo om miet weg te hou. Dit was die plek vir rosyntjies, droëvye, droëperskes, tameletjies en allerhande soorte lekkernye. Dit was die vertrek waar ons kinders maar telkens wederregtelik ingesluip het as die geleentheid hom voorgedoen het.
Ons het nie sitkamers gehad nie, net voorhuise. Ons voorhuis se vloer was van klip en moes elke oggend kersvet gesmeer en blink gepoets word. Jy moes nie te veel kersvet aansmeer nie, want dan het die vloer vaal spore gemaak waar jy trap. Daardie vloer het so geblink dat jy jouself daarin kon spieël. Maar hier in die wintersaande as Pa huisgodsdiens hou en ons kniel vir die gebed, was dit nie lekker nie. Daar was nie ’n aparte eetkamer nie. Ons het in die voorhuis gesit. In die middel het jou tafel en stoele gestaan en in die een hoek het die “dresstafel” gestaan waarop al jou mooiste breekgoed gepak was. Bo-oor is ’n pragtige fyn net gegooi. Daardie “dresstafels” was sonder uitsondering gemaak van die mooiste geelhout met pikswart dik stinkhoutpote – iets wat jou vandag deeglik aan die sak sal laat vat. Aan die muur het die ou familiehorlosie gehang wat gewoonlik elke kwartier geslaan het.
’n Badkamer het ons ook gehad, maar daarin was gewoonlik ’n groot sinkbad, ovaal in vorm, met twee ore. Saans is daar twee emmer kookwater ingegooi en dan verder kou water totdat die watertemperatuur na jou sin was. In die slaapkamers het koperledekante gestaan met pragtige koperstyle. Bo-op die koperstyle was koperknoppe wat kon op- en afskroef. Daarin het ons kinders ons spaargeldjies bewaar en aan daardie styl het ons ons krismiskouse opgehang.
Elke huis het ’n solder gehad. Die leer wat na die solder gelei het, was ’n swaar affêre van sterk dik hout gemaak, want swaar sakke koring is daar op en af gedra. Ook jou pampoene, patats, aartappels en uie is daar gebêre. Die solders het plankvloere gehad wat baie bygedra het om die somerhitte en winterkoue uit die huis te hou.