Dit was gedurende die laat-1930’s dat die Sagtevrugteraad in die lewe geroep is. Hierdie raad het himself ten doel gestel om die sagtevrugteboer se belange op die hart te dra en om vir hom leiding te gee. Daar is ’n hele stel reëls en regulasies opgestel ten opsigte van gradering, verpakking en bemarking van alle sagtevrugte. Die etikettering van die houers, sowel as die gewig van elke gepakte houer, is voorgeskryf en volgens hierdie voorskrifte moes gehandel word. By die dokke is inspekteurs aangestel om elke besending deeglik te ondersoek en toe te sien dat alles aan die SVR se standaarde voldoen het. Indien dit nie die geval was nie, is die besending afgekeur.
Die regulasies was besonder streng en baie boere was ontevrede. Die grootste ontevredenheid het egter ontstaan toe die Raad boere verbied het om self pruime en pere te bemark. Alles moes deur die SVR se kanale gaan. Hierdie regulasie het tot praktyke wat soms lagwekkend was, gelei. Die binnelandse markte sit en wag vir pruime en pere en daar kom niks. Dis te verstane dat die bietjie wat wel op slinkse wyse op die mark beland het, buitensporige pryse behaal het. So het sommige boere ’n vrugtekis geneem, die syplanke aan een kant verwyder, appelkose in die buitenste laag gepak en die kis verder met pruime opgevul. Op die etiket is daar dan net die woord “vrugte” gedruk. Heel gou het die mense wat pruime op die mark kom soek het, geweet wat hulle moes koop. Ek weet van een boer wat sy pruime oop en bloot bemark het – nie op sy naam nie, maar op dié van sy esel, Vaaltyn. Hy het die tjeks ontvang, maar toe daar ’n dagvaarding vir Vaaltyn deur die pos kom, is Vaaltyn dood. Niemand wis van so ’n persoon nie. Die boere was ook nie tevrede met die pryse wat die Raad betaal het nie. Jy het in elk geval nie al jou geld gelyktydig ontvang nie, maar in drie dele – ’n voorskot, ’n middelskot en ’n agterskot. Ek onthou goed hoeveel derde graad Eldorado-pruime ons aan die Raad moes lewer vir 1/6 (15c) per 50 lb. (20 kg) kis. Eldorado-pruime is mos pikswart, maar geneig om wit vlekke op die skil te maak. Sodra ’n pruim ’n wit vlekkie op die skil het, is dit derde graad.
Hoewl die boere baie teen die SVR was en gekla het oor die pryse en al die regulasies, glo ek tog dat die Raad ’n stabiliserende uitwerking op die bedryf gehad het en ook goeie markte vir die produsente geopen het. Vir my persoonlik was die Raad ’n uitkoms, want hulle moes in die begin duisende en duisende graadkiste laat maak. Dis ’n kis wat 50 lb. (20 kg) gehou het en gelyk het soos dié waarin die boere vandag nog pluk. Dis ’n stewige swaar kis en elkeen het ses en sestig spykers gehad. Hulle het mense gekry om die kiste te maak en vir my was dit ’n geleentheid om studiegeld te verdien. Na ek matriek geskryf het, was daar nog so drie maande oor voordat ek met my studies sou begin. In daardie tyd het ek vir die Raad kiste gemaak teen 12/6 (R1,25) per honderd. Elke man wat kiste gemaak het, het ’n hamer, spykers, kissiehout en ’n bankie van die Raad ontvang. Die bankie het twee gleuwe ingehad waarin die driehoekige stukke hout vir die kopstukke kon lê. Jy’t eers die kopstukke gemaak en dan die kis verder klaargemaak. ’n Opsigter het jou kiste ondersoek, dit aan die einde van elke week getel en jou daarvolgens betaal. Op elke kis moes ook nog die letters SVR, of DFB in Engels, met swart verf aangebring word om te toon dat die kis die eiendom van die Raad was. Dit was nie harde werk nie, maar om iets te verdien, moes jy lang ure werk. Jy het gewoonlik soggens vieruur begin en aangehou tot saans tienuur. Naweke moes jy maar die verlore slaap inhaal. In elk geval, die SVR-DFB het darem grootliks daartoe bygedra dat ek my klere self kon koop en my losies kon betaal toe ek met my studies begin het.