As daar nou iets is waarop Langkloof nie kon roem nie, was dit ’n melkkoei. Iets moes in ons streek geskeel het, want ten spyte van goeie behandeling was goeie produseerders bitter skaars. Oom Gielie Bokkie het ’n Ayrshire-kudde gehad wat ’n loutere plesier vir die oog was, maar hul melkproduksie was maar so-so. Botlier was egter ’n ander saak. Sy was helfte Fries, helfte Jersey en sy was die eiendom van ant Hester, oom Klasie Pieter se vrou. Botlier was ’n groot sterk rooibont koei en sy het ’n ongelooflike klomp melk geproduseer. Vanweë sy werk was oom Klasie dikwels weg van die huis en ant Hester en die dogters het die koei gemelk, versorg en gedokter. Daardie koei het die huisgesin met ses kinders van melk en botter voorsien en het boonop gesorg dat ant Hester elke week tot 13 lb. (6½ kg) botter kon verkoop. Botlier sou speel-speel as Langkloof se kampioenkoei kon aangewys geword het. Ek moet egter hier bysê dat sy byna deel van die huisgesin was en dat sy sekerlik beter behandeling as enige ander koei gekry het.
Botlier is ’n paar keer deur diep waters. Soms het sy op stal gestaan en dan is daar vir haar lusern en groenvoer gesny en aan die krip gevoer. Ander tye is sy op lyn geslaan en dan moes sy ’n paar keer per dag verslaan word en sommer ook water toe geneem word. Een namiddag het twee van die meisiekinders gegaan om Botlier te verslaan. Van ver af het hulle al gesien dat die arme dier in groot moeilikheid verkeer en toe hulle naderkom, sien hulle dat ’n swerm bye haar gepak het. Hulle het vinnig teruggehardloop huis toe en hul ma vertel wat aan die gang was. Op haar beurt het ant Hester weer vir my geroep om te kom help. Wat kon ek doen? Ek kon tog nie die koei met die hele swerm bye agterna huis toe bring nie. Ant Hester stop my ’n dosie vuurhoutjies in die hand en sê ek moet ’n groot vuur met droë gras ’n ent van die koei af maak. Dan moet ek groen gras trek en op die vuur gooi sodat die vuur kan rook. Daarna moet ek Botlier gaan losmaak en rook toe lei, want ’n by haat rook. Die vier dogters het my fluks kom help en net gou het die vuur ’n digte rook gemaak. Toe sê ek vir die dogters om pad te gee.
My hart klop in my keel toe ek die koei storm om die pen uit die grond te trek. Ek het ’n kortbroek en ’n kortmouhemp aan. ’n By maak mos ’n ander geluid wanneer hy kwaad is as wanneer hy vreedsaam is. Aan hulle gezoem kon ek duidelik hoor dat die bye hulle baie diep vir my vererg het. Hulle het behoorlik op my toegesak. Waar hulle gaan sit, steek hulle en waar hulle in my vasvlieg, daar steek hulle. Hulle kruip by my hempsmoue en broekspype in en sover hulle gaan, steek hulle genadeloos. Dit voel vir my ek gaan nooit by die rook kom nie. Toe ek wel daar kom, lyk dit nie asof die betrokke swerm enigsins respek het vir rook nie, want die stekery gaan onverpoos voort. Eers toe ek as’t ware wydsbeen oor die rook staan, lyk dit of die bye gaan bes gee. Die trane loop so uit my oë van die rook dat ek feitlik blind is en blykbaar het dit dieselfde uitwerking op Botlier, want dit lyk werklik of sy staan en huil. Ant Hester en die dogters skree vir my om tog maar deur te byt, maar intussen oorweeg ek dit sterk om weg te hol. My arms, bene en hande voel of dit aan die styf word is, maar teen hierdie tyd steek die bye darem al minder en minder. Ek sal nooit kan sê hoe lank ek daar met die koei aan die ketting gestaan het nie, maar uiteindelik het al die bye ons verlaat en hulle pak weer saam by die akasiaboom met die hol stam waarvandaan hulle gekom het.
Ek besluit dis ’n goeie tyd om die koei huis toe te neem en ek loop ’n wye draai om die boom. Botlier is in ’n gehawende toestand. Haar hele vel is vol onooglike knoppe geswel en die uier is al byna dubbel die normale grootte. Sy loop moeilik en ek twyfel of ek haar by die huis gaan kry. Na groot gesukkel is ons darem by die huis en ant Hester gooi drie pakkies koeksoda in ’n halfemmer water en begin die koei afspons. Sy beveel die dogters om tafelmesse te gaan haal en die angels uit my te krap. Sy waarsku hulle om nie die angels met die hand te vat nie, want dan druk hulle al die gif onder die vel in. Hulle begin by my bene wat grys is van die angels. Toe takel hulle my arms, my wange en my nek. My ore is ook vol angels en hulle dreig om my ore af te sny. Ant Hester jaag hulle aan om klaar te maak sodat hulle my ook kan afspons. Ek sê vir hulle dat die bye by my broek ingekruip het en dat my boude ook vol angels is. Annatjie sê: “Daardie angels kan sit tot die oordeelsdag. Ek gaan nie op jou boude angels uitkrap nie.” My lyf is so aan die brand van bysteek dat ek nie al die aandag wat die dogters aan my gee, kan geniet nie. Ek is dankbaar toe die besigheid afgehandel is.
Eers toe kon ons Botlier werklik onder oë neem. So ’n lelike koei het ek in my dag des lewens nog nie gesien nie. Die onderlip is so geswel dat die kop meer na dié van ’n renoster s’n lyk as na die van ’n koei. Die oë is bottoe geswel. Maar dis toe die meisiekinders agter om die koei loop en sien hoe dit onder die stert lyk, dat een van hulle vir hul ma sê die koei se lewer hang uit. Ek kon sien daar is iets wat hulle pla.
Martha vra naderhand: “En wanneer gaan jy begin swel?”
Waarop Annatjie sê: ”Ek lag my ’n papie as hy soos Botlier lyk.”
Die koei se melk was byna vir ’n week totaal weg. Sy kon feitlik nie vreet met die dik lippe nie en ’n paar dae lank was sy baie siek. Sy het dit egter oorlewe en ek ook.
Ant Hester dring daarop aan dat ek die bynes moet gaan vernietig. Anna en Martha wil dadelik saamgaan, maar ek sê vir hulle ek sal môreaand gaan. Ek het op die oomblik glad nie lus om weer met die bye slaags te raak nie. Die volgende aand loop ek met ’n noi aan elke arm en ’n blik petrol in die hand. Martha lig met die flits. By die nes skiet ek die blik petrol by die gat in en sê vir hulle om terug te staan. Ek steek ’n stuk lap aan die brand en skiet die lap met ’n stok by die gat in. Ek hoor net “whoem” en voel ’n wind by by gesig verbytrek. Toe brand die bye. Ek twyfel of daar een by ontkom het.
Eendag waai die noordewind. Dis ’n regte bergwind en dis so warm dat ’n mens kwalik kan asemhaal. Na skool het die dogters vir Botlier gaan lusern sny en in haar krip gegooi. Ant Hester laat my roep. Die koei is weer in die moeilikheid. Sy is so opgeblaas van die verlepte lusern dat sy staan en kreun en rondtrap. Die linkerkant van haar pens staan met ’n punt die lug in. Kort-kort wil sy gaan lê en sy urineer aanhoudend. Ant Hester sê daar is net een genade. Ons moet die koei jaag dat sy hardloop en ons moet sorg dat sy nie gaan lê nie. Sy stop so ’n kort sambokkie in my hand. Ons jaag Botlier uit en probeer haar aan die gang kry. Die stomme ding is so ongemaklik dat sy kwalik kan beweeg. Hoe moet ’n mens nou nog staan en slaan aan so ’n dier? Maar ant Hester hou net aan: “Slaan, jong, slaan!” Ek piets die koei om die agterbene, maar sy hou net op ’n stappie. Toe ons eindelik in die grootpad kom, het ons haar darem op so ’n skilpaddraffie, maar met die beste wil van die wêreld kry ons haar nie in ’n hoër rat nie. Ant Hester is al uitasem, maar hou net aan: “Slaan, jong, slaan!” Regoor die huis gaan sit ant Hester in die pad – pootuit. Annatjie neem by haar ma oor en ons dryf so al wat ons kan. Toe ons regoor oom Lang Martiens se hek kom, breek Botlier ’n allemintige wind op. Dit stink so dat ek wil naar word. Daar volg nog ’n paar sulke winde en dit wil voorkom of die koei gemakliker is. Voor ons by Sopieslaagte se hek kom, sien ek dat sy taamlik afgeblaas is en ek sê vir die meisiekind die gevaar is verby. Ons draai om, terug huis toe. Maar ai, Botlier trek los en bemors my van kop tot tone met pensmis. Dit loop behoorlik van my af. Annatjie gaan sit sommer in die pad en wil haar vrek lag. Ek is op die plek vies vir die koei en vir die meisiekind en vir myself. Ons laat die koei nou stap en elke minuut word sy dunner. Toe ons by ant Hester kom waar sy nog pal sit, is die koei so dun dat jy haar met ’n breipen kan deursteek. Dit lyk of sy die vorige week laas geëet het. Uiteindelik is Botlier weer op hok. Toe begin die groot lag. Hetta kom uit die huis en bekyk my van bo na onder. Sy sê: “Ag, liewe jirre, wat het jou oorgekom?” Dit lyk nie of die gelag gou gaan end kry nie. Ant Hester sê: “Toemaar, jong, laat hulle maar lag. My An gaan jou nou skoonmaak.” En “my An” vat my net daar water toe. Eers was sy my gesig en hoed. Daarna laat sy my my hemp uittrek, was dit en gooi dit oor die draad. Toe sê sy: “En nou jou broek.” Ek sê vir haar ek gaan weragtag nie my broek uittrek nie. Sy sê: “Jou arme aap, dink jy miskien ek sal jou vra om jou broek uit te trek?” Sy was my broek so aan my lyf en so moet dit ook droog word.
Hetta is al uit die skool, maar Anna en Martha is saam met my in die hoërskool. Ek roep hulle en dreig dat as hierdie storie by die skool uitkom, ek hulle sal terugbetaal. Hulle belowe om nie ’n woord te rep nie en hulle hou gelukkig woord. Die volgende dag na skool laat ant Hester my roep. Sy druk ’n opgemaakte pakkie in my hand en sê:
“Dis vir gister.” Sy roep die dogters en sê hulle moet ook dankie sê. Ek kry van elkeen ’n klapsoen.
Ek sê: “Ant Hester, ek wens Botlier blaas weer op.”
Sy sê: “Nee o jirre, ou kind, hulle kan jou vir my part elke namiddag ’n soen gee, maar Botlier moet tog nie weer opblaas nie.”