26. Skoolfonds

Die skole in Onder-Langkloof het deurgaans skoolfondse gehad. Hierdie fondse is meestal opgebou en aangevul deur die hou van tiekie-aande en sportbyeenkomste. Die skoolfonds is vir verskeie doeleindes aangewend, bv. vir die opbou van ’n ordentlike biblioteek of vir die aankoop van Kersgeskenke vir die einde van die jaar se Kersboom.

Vir tiekie-aande is die klaskamers ingerig vir kompetisies en speletjies. Vir elke item waaraan jy wou deelneem, moes ’n tiekie (2½ c) betaal word. Die kompetisies het ’n wye verskeidenheid gedek en was altyd ’n groot bron van vermaak. ’n Juffrou het byvoorbeeld ’n groot vark sonder stert op die swartbord geteken. Die deelnemers is geblinddoek, ’n paar keer in die rondte gedraai en ’n stuk kryt in die hand gestop waarmee hy die vark van ’n stert moes voorsien. Daar is baie gelag. Party deelnemers kon nie eers daarin slaag om die swartbord te kry nie. Ander het weer die stert ver voor die vark se kop aangebring. Die een wat naaste aan die regte plek was, het die prys gekry.

Op ’n ander plek in die klaskamer was ’n bad met water. Op die water het ’n klompie kurkproppe gedryf. Aan elke kurkprop was ’n hakie gemaak van ’n koppiespeld. Jy kry ’n stokkie met ’n toutjie en ’n vishoekie vooraan en dan moet jy probeer om soveel moontlik van die “visse” binne twee minute te vang. Dis nogal moeiliker as wat die klink! In een hoek het ’n gordyn gehang. Aan die gordyn was ’n plakkaat met die opskrif: “Kom besigtig die Potgieter-gesin.” As jy jou tiekie betaal het, is jy toegelaat om agter die gordyn in te loer. En wat sien jy daar? Op ’n bankie staan ’n kamerpot en ’n gieter.

In die kindertuinkamer was ’n skyfskietery met ’n windbuks aan die gang. Jy het vyf koeëltjies vir jou tiekie gekry. Iemand het rekord gehou van elke skut se telling. Die ou wat die hoogste telling aangeteken het, het met die prys weggestap. Aan die ander kant van die kamer was die manne besig om veerpyltjies te gooi. Jy het drie pyltjies vir jou tiekie gekry, d.w.s. jy het net drie kanse gehad om die kol te tref. Op ’n ander plek het ’n bord met tien spykers, genommer van een tot tien, gehang. Vir jou tiekie het jy vyf ringe gekry. Jy moes drie meter ver van die bord af gaan staan en probeer om soveel moontlik van die ringe só te gooi dat dit aan die spykers bly hang. Daar was nog hope ander kompetisies. Hierdie paar voorbeelde gee u net ’n idee van die tipe vermaak wat destyds op plattelandse dorpies gereël is.

Toe mnr. Longland prinsipaal van Twee Riviere se skool geword het, het hy besluit dat die skool sportgronde moes hê. Op die oostelike wal van Klipdrif, die stroom wat van suid na noord deur die dorp loop, het ’n pragtige gelyk stuk aarde gelê wat ongelukkig toegegroei was van die taaitrekbossies. Hierdie bossie staan in sommige streke bekend as die klaaslouwbos en in ander areas praat die mense weer van die maermanbossie. Ek verkies egter die Langkloof-naam, want hulle is weragtag taai om uit te trek. In elk geval, deur die goedgunstige samewerking van die eienaar het mnr. Longland daardie stuk grond bekom en tydens die handwerkperiodes moes die seuns begin om taaitrekbossies uit te trek. Ons hande was naderhand vol blase, maar ons het vasgebyt en uiteindelik genoeg grond skoon gehad vir die sportgronde. Atletiekbane is uitgemeet, voortjies gekap en gekalk. Hoogspring- en vérspringgate is gemaak en met sand opgevul. Daar is selfs voorsiening gemaak vir paalspring. Verder is daar pale ingeplant met dwarsbalke aan waarop ’n sterk ronde paal los gelê het vir kussinggevegte. Laastens is daar ’n paalgeboutjie opgerig en met seile oorgetrek, gereed vir die maak van koffie en tee en pannekoek bak.

Ons sportgronde het nou wel nie aan Olimpiese standaarde voldoen nie, maar het volkome aan hul doel beantwoord. Ons was baie trots op ons werk. Daar is hard aan alle nommers begin oefen en ’n datum is vasgestel vir ons eerste sportbyeenkoms. Dit sou verkeerd wees om van skoolsport te praat, want daar was net soveel of meer items vir die volwasse mans en vrouens as vir die skoolkinders. Soos die jaarlikse basaar het die sportbyeenkoms ook heeldag aangehou. Daar was etlike nommers wat die mense laat skater het, bv. die sakresies en die kussinggevegte. Ek dink die toutrek was seker die hoogtepunt. Wat baie duidelik geword het gedurende die eerste sportbyeenkoms, was dat daar verskuilde talent onder die mense was. Oom Pieter Elletjie en ou Jas van oom Wessel Schreiber was ongelooflik vinnig met die naellope terwyl Annatjie van oom Klasie Pieter elke hardloopnommer vir dogters gewen het. Met die naald- en gare-wedloop kon niemand vir Meraai van oom Hans kers vashou nie. By die kussinggevegte was oom Big John die bobaas en sy jonger broer, Sarel, het gewys dat hy met genoeg oefening ’n paalspringer van formaat sou word. So het elke nommer sy verrassing gelewer. By die gewigstoot vir mans klop mnr. Longland my pa uit ’n stilstaande posisie. Die volwassenes moes natuurlik betaal vir deelname en saam met die tee, koffie en pannekoek se verkope sorg die eerste sportbyeenkoms vir ’n netto wins van byna £200 (R400) – alles vir die skoolfonds.

25. Basaar          27. Die Kerk