Geen seun wil darem nou geheel en al sonder sakgeld klaarkom nie. Van ons ouers het on nie gekry nie, behalwe die dag as dit basaar is. Daarom moes ons maar self ’n plan maak om so nou en dan ’n sakgeldjie te kry. Dit het kos koppe bymekaar sit, maar die idees was bra skaars.
Eindelik het ons besluit om ’n besemgoedbedryf te begin. Dit sou beteken dat ons soms Klein Langkloof toe moes gaan om besemgoed teen die hange van die Tsitsikammaberge te pluk, plaas toe te dra en dan daarmee te smous. Jy moet ’n tou of riem hê om die goed in ’n bondel te bind. Boonop is die goed nog groen en dus swaar en glad. Niemand sien kans om meer as vier besems te dra nie. Dit sal elkeen vir ’n tiekie (2½ c) verkoop word, dan het elkeen darem ’n sjieling (10 c). Ongelukkig vind ons sommer gou uit dat ons begroting net soos die staat s’n werk. Dit klop nooit. Daar’s altyd ’n tekort. Wanneer ons eindelik op die plaas aankom, is ons byna dood geklim en geloop en jy moet nog gaan smous. Wanneer ’n vrou ons besems wil koop, sê sy dadelik die besempies wat ons uitgemeet het, is te klein vir ’n ordentlike besem. Dit kos dan maar groter maak, want jy wil darem ook nie met jou ware bly sit nie. Op die ou end word vier besems slegs twee besems en ons sit elkeen net met ’n sikspens (5 c). Net gou besluit ons die besembedryf is nie lonend nie, ons sal ’n ander plan moet beraam. Bowendien hou ’n besem ook te lank en dit sal geruime tyd duur voordat ons weer kan gaan pluk.
Ek het nooit ’n vrou in Langkloof hoor kla oor werk nie. Daar was net een ding wat die vrouens nie kon verduur nie en dit was ’n tekort aan ordentlike brandhout. Ons het besluit om hierdie situasie uit te buit. Ons sou ’n brandhoutbedryf begin, maar nie een van ons was bereid om brandhout op sy skouers uit die berg te dra nie. Dit sou ook nie juis lonend wees nie. Daar word weer koppe bymekaar gesit en daar word besluit om ’n slee te bou. Wat gaan ons met ’n slee sonder trekdiere maak? Dis ’n byna onoorkomelike probleem. Dan onthou een van ons dat oom Pool ’n klomp donkies het wat feitlik heeljaar los loop in die berg. Ons besluit om oom Pool se donkies te “leen.” Op die Witsand het ons na ’n wattelboom met ’n lekker wye mik gaan soek. Eindelik is een na ons sin gevind en dit is ’n halwe meter onderkant die mik afgemaak. Daar moes plek wees waaraan die trekketting moes kom. Die sytakke is netjies afgesaag en die geraamte vir ons slee is blikhuis toe gesleep. Met ’n oer-frikboor wat seker baie jare laas gewerk het, het ons na drie dae darem ’n gat geboor gekry vir die trekketting. Toe het ons gaan dwarssparre kap en ’n platform op die geraamte vasgesit. Eendag het oom Klasie Pieter daar ingekom om iets van die dorsmasjien na te gaan. Hy het ons slee krities bekyk en ons toe daarop gewys dat die slee se kop in die grond sou vassteek. Die deel waaraan die trek moes kom, moes skuins gekap word sodat die neus darem so effens die lug in staan. Die oom is huis toe en het teruggekom met sy dissel. In ’n ommesientjie het hy die trek met die dissel mooi skuins gekap en ons verseker dat die neus nie meer in die grond sou vassteek nie. Die oom vra of ons trekdiere het. Daarop word bevestigend geantwoord.
“En tuie?” vra die oom. O magtag, daaraan het nie een van ons gedink nie. Dis nou ’n groot terugslag. Ons het alles wat ons moet hê, maar ons sit sonder tuie. Ons is bitter teleurgesteld. Ons weet nie her- of derwaarts nie en dit lyk of ons onderneming ’n vroeë dood gaan sterf. Alles staan nou doodstil. Ons is neer teen die grond.
Die volgende week reën dit een dag en die namiddag kom outa Pompie by ons in die blikhuis skuil. Ons kla ons nood by hom. Hy vertel ons dat hy twee donkietuie het wat om Lang Martiens vir hom gegee het. Hy sal die tuie op skuld aan ons verkoop vir 10 sjielings (R1,00). Ons koop die tuie. Die volgende dag bring hy die tuie, maar daar is werk aan hulle. Outa Luikes sit hoeka in die blikhuis waar hy die heeljaar tuie maak en repareer. Hy gaan die tuie vir ons na, lap waar nodig, sit gespes in waar nodig en toe hy klaar is, skuld ons nog 5 sjielings (50 c). Saterdagoggend vroeg is ons berg toe en ons slaag daarin om twee donkies vas te keer en te vang. Outa Pompie het aangebied om te kom help. Ons span in en toe ons wil ry, wil die donkies nie loop nie. Het ons dan nou tussen al die donkies twee steeks goed gevang? Ons is hande in die hare, want ons wil vandag ons skuld afbetaal. Outa Pompie het die spul staan en betrag en toe sê hy ons moet weer uitspan. Toe span hy die donkie wat regs was aan die linkerkant in en die ander een aan die regterkant. En wonder bo wonder, die donkies vat die slee en sleep dit uit die blikhuis na buite. Ons maak beurte om op die slee te ry en ons sit af berg toe. Bokant oom Martiens se huis gaan ’n pad skuins al teen die loop na die gruisgate toe. Ons volg hierdie pad bokant die oom se huis langs en begin droë hout maak. Outa Pompie laai die vrag vir ons. Die vrouens is baie lief vir ysterhout en geelbos en ons sorg dat ons net daardie soort hout vat. Toe die vrag hoog genoeg na ons sin is, maak ons dit goed vas. Maar ai toggie, die donkies kry nie die slee in die pad gedraai nie. Die hele vrag moet weer afgepak word, die slee word met die hand gedraai, en die hout word weer opgelaai en vasgemaak. Huis toe is dit feitlik heelpad afdraand en ons kom sonder enige gesukkel tuis. Ant Lenie Naas koop die hele vrag hout by ons vir £1 (R1,00). Ons betaal outa Pompie, gaan gee outa Luikes se 5 sjielings (50 c) vir hom en deel die ander 5 sjielings onder ons drie. Ons is almal hoog in ons skik. Volgende keer sal ons £1 hê om te deel. Ons merk ons twee donkies elk met ’n geel verfkol op die boud en jaag hulle terug veld toe. Daar was net een probleem met die houtbedryf. Droë hout was so skaars soos hoendertande. Ons besluit dus om vroegtydig ’n klomp geelbosse en ysterhout te gaan kap om te laat lê en droog. Toe ons ’n tyd daarna ons tweede vrag gaan laai, het die bruinkinders al ons hout weggedra! Die teleurstelling was groot, maar ons kap weer ’n klomp groen hout en ry dit huis toe. Ons besluit om die hout dadelik op te kap sodat dit gouer droog word en dan kan die prys sommer na £1.10.0 (R3,00) per vrag opgestoot word. Die houtbesigheid het besonder goed gewerk. Ek glo nie oom Pool het uitgevind dat ons sy donkies so af en toe “geleen” het nie.
Oom Naas het nie seunskinders gehad nie. Toe sy ou staljong, ou Kapie, weens ouderdom en siekte ophou werk, moes oom Naas self sy aandwerk begin doen. Ek en Naas van oom Dries gaan bied toe aan om saans die koei te melk en sommer vir hom in die stal ook te werk. Die oom is baie in sy skik en bied aan om ons elkeen elke einde van die maand 7/6 (75 c) te gee. Saans se in die stal werk, is maar ’n kleinigheid. Daar moet net vir elke perd ’n gerf hawer in die krip gekerf word en hulle kooigoed moet oopgegooi word vir die nag. Soggens is dit ’n baie groter werk, want dan moet die kooigoed uitgeskud en op ’n hoop in die hoek gegooi word. Daar moet ook weer vir elkeen ’n gerf hawer gekerf word. Boonop moet die perde deeglik geroskam word en dan met ’n “denniebros” (dandy brush of perdeborsel) blink geborsel word. Die perde moet ook nooit op ’n nat vloer staan nie, want dan kry hulle mok in die pote en dis ’n lang proses om so ’n poot weer gesond te kry. Die oggend se stalwerk, hoe graag ons ook wou, kon ons nie vir die oom doen nie. Dit was vir ons ’n louter plesier om oom Naas te help, want ons was baie lief vir hom. Hy het ons menige loesing gespaar deur vir ons in die bres te tree. Hy was die oudste van my pa se broers. Ek wil nou nie voorgee dat sy woord wet was nie, maar hulle het darem geluister as oom Naas praat. As ons om een of ander rede moes riemspring, het hy baie keer vir ons pa’s gesê: “Julle vergeet dat julle ook jonk was. En wat het julle nie alles aangevang nie? Baie erger dinge as hulle.” Toe ons boonop oom Naas se maandelikse toelae by ons houtverkope kon voeg, het ons soos ware kapitaliste begin voel. Ons het sowaar die stoute skoene aangetrek om by die skool se spaarklub aan te sluit en ons het weggesit soveel ons kon. Toe ons die dag die skool verlaat, het elkeen van ons ’n hele paar pond in ons spaarrekening by die poskantoor gehad. Ons was voorwaar trots op daardie swaarverdiende geld.